Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbuyiseni Ndlozi van die EFF sê misdaad in Suid-Afrika is ‘n oorlog
# Action Society veroordeel die SAPD se versuim om misdaadstatistieke uit te reik
# En, rugby: Die naweek se VRK-wedstryde kan uitspeelplekke bepaal
# Die EFF-parlementslid, Mbuyiseni Ndlozi, sê misdaad in Suid-Afrika is ‘n oorlog. Hy het op die begrafnis van die vyf-jarige Ditebogo Junior Phalane in Soshanguve die normalisering van misdaad veroordeel. Ndlozi kritiseer die minister van Polisie, Bheki Cele, en die polisie omdat hulle nie pro-aktief is nie. Ditebogo is tydens ‘n kaping dood terwyl hy na sy pa se motor toe gehardloop het. Ndlozi skryf die misdaadgolf aan armoede en die hoë werkloosheidsyfer toe:
ActionSA kritiseer intussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens omdat hy versuim het om onlangse misdaadsyfers bekend te maak, ten spyte van beloftes. Hulle beskuldig minister Cele dat hy voorrang gee aan die ANC in plaas van aan die veiligheid van burgers. Die party sê die kansellasie van die uitreiking van die statistiek word beskou as verraad teenoor landsburgers en onderstreep die ineenstorting van die onafhanklikheid van die polisie. ‘n Woordvoerder van ActionSA, Juanita du Preez, glo misdaad word grootliks laer aangedui weens openbare wantroue in die polisie en die regstelsel:
# Die Departement van Gesondheid in Gauteng het begin met ‘n veldtog om die rekords van pasiënte op papier, te digitaliseer. Woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die projek moet 800-miljoen rekords oor 36-maande digitaliseer en dit begin met die Chris Hani Baragwanath- en Rahima Moosa-hospitaal. Die e-Gesondheidstelsel sal doeltreffendheid verhoog asook akkuraatheid en veilige berging deur middel van wolktegnologie. Modiba sê dit is tot groot voordeel van die provinsie se openbare gesondheidsorgstelsel:
# Rugby: Drie van die vier Suid-Afrikaanse spanne het alles om voor te speel in die voorlaaste ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Bulle kan steeds in die top twee eindig, die Stormers mik na die top vier en die Leeus is steeds aanspraakmakers vir ‘n plek in die kwarteindronde. Die Bulle speel tuis teen Benetton, die Leeus kom in Johannesburg teen Glasgow Warriors te staan, die Stormers speel in Ierland teen Connacht, en die Haaie ontmoet Cardiff in Durban.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-164-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-401-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-37-sent per vat.
# Om af te sluit: ‘n Gebrek aan werksgeleenthede is geïdentifiseer as een van die groot redes waarom Suid-Afrikaanse jeug hul rug op die ANC kan draai. Volgens ‘n studie deur die Sentrum vir Maatskaplike Ontwikkeling in Afrika is die kans vir jeugdiges 1,5-maal meer om vir opposisiepartye te stem weens die hoë werkloosheidsyfer en ‘n swakker verbintenis met die regerende party. Die hoofnavorser, Leila Patel, sê die opkoms van jeug-kiesers in die verkiesing van 29 Mei kan eerder partye soos die EFF bevoordeel. Die studie het drie-duisend-511 deelnemers betrek, met 51-persent tussen die ouderdomme van 18 en 34.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….