Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In hierdie bulletin:
# Suid-Afrika teken die eerste keer in 15-jaar ‘n begroting-surplus aan
# Die reddings- en herwinningsoperasie in George is afgehandel
# En ‘n Kanadese swemmer verbeter haar eie wêreldrekord tydens die Olimpiese proewe
# Suid-Afrika het die eerste keer in 15 jaar ‘n begrotingsurplus aangeteken. Die surplus is 0,4-persent van die bruto binnelandse produk in die jaar geëindig Maart 2024. Hierdie positiewe ontwikkeling behoort die verdere groei van skuld in die ekonomie te vertraag. Beleggers en ontleders beskou dit as ‘n moontlike stap tot die bestendiging van skuld, hoewel voortgesette vordering nodig is om ‘n blywende uitwerking te hê. Die Tesourie beplan om die finale syfers, wat deur die komende BBP-data geraak word, in die begrotingbeleidsverklaring in Oktober bekend te maak.
# ActionSA kritiseer die Suid-Afrikaanse Polisiediens omdat hy versuim het om onlangse misdaadsyfers bekend te maak, ten spyte van beloftes. Hulle beskuldig die minister van Polisie, Bheki Cele, dat hy voorrang gee aan die ANC in plaas van aan die veiligheid van burgers. Die party sê die kansellasie van die uitreiking van die statistiek word beskou as verraad teenoor landsburgers en onderstreep die ineenstorting van die onafhanklikheid van die polisie. ‘n Woordvoerder van ActionSA, Juanita du Preez, glo misdaad word grootliks laer aangedui weens openbare wantroue in die polisie en die regstelsel:
# Die redding-en-herwinningsoperasie by die ineengestorte bouterrein in George is afgehandel. Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê meer as ‘n duisend werkers het aan die operasie deelgeneem, wat 260-uur geduur het. Meer as ses-duisend-ton rommel is verwyder. Die aantal mense op die perseel is afwaarts aangepas tot 62. Bredell bevestig 33 sterftes en 34 mense gered waarvan vyf later dood is, terwyl tien pasiënte steeds in die hospitaal is. Hy sê die vordering met die ondersoek sal mettertyd oorgedra word.
# Swem: Die Kanadese tiener, Summer McIntosh, het ‘n waarskuwing aan haar Olimpiese teenstanders gestuur toe sy haar eie wêreldrekord in die 400-meter individuele wisselslag verbeter het. Die 17-jarige het tydens haar land se Olimpiese proewe ‘n tyd van vier-minute-24,38-sekondes opgestel. Sy het vroeër ook die 400- en 200-meter vryslag gewen. McIntosh sal later vanjaar in Parys aan haar tweede Olimpiese Spele deelneem waar sy te staan sal kom teen die legendariese Amerikaner, Katie Ledecky, en die dubbele Olimpiese kampioen van Australië, Ariarne Titmus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-270-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-401-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-36-sent per vat.
# Ten slotte: Die voormalige Konstitusionele Hofregter, Yvonne Mokgoro, se familie onthou haar as ‘n pilaar van krag en ‘n verenigende dryfkrag. Haar gedenkdiens was by die Nelson Mandela-kinderfonds in Johannesburg waar haar seun, Ithateng Mokgoro, haar beskryf het as ‘n demokraat met goeie waardes. Hy sê die familie, en die land as geheel, het ‘n beginselvaste dienaar verloor met ‘n toewyding aan geregtigheid wat sal voortgaan om die samelewing te vorm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….