Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# ActionSA sê in sy riooltoer waar stukkende riool-infrastruktuur in Suid-Afrika besigtig is, is dit duidelik Suid-Afrika worstel met niks minder as ‘n nasionale gesondheidskrisis nie. Die feit dat meer as 46-persent van grondwater tans deur riool besoedel is, is ‘n duidelike bewys van die probleem en die skaal waarop munisipaliteite nie daarin kan slaag om riool-infrastruktuur te bestuur nie. Michael Beaumont van ActionSA sê die provinsiale regerings se versuim om aandag te skenk aan gebroke munisipaliteite is nog ‘n belangrike rede vir die rioolkrisis:
# Die Afrika-Ontwikkelingsbank is vandag die gasheer vir ‘n virtuele inligtings- en opleidingslypskool vir burgerlike organisasies wat by die beskerming van die omgewing en die uitwerking van klimaatsverandering betrokke is. Die aanlyn geleentheid het ten doel om organisasies toe te rus om befondsing van die Afrika Klimaatsveranderingsfonds te verkry, voor sy vierde uitnodiging vir voorstelle. Die fonds steun die bank se doelstellings vir die verdriedubbeling van sy klimaatsfinansierings-pogings en die versterking van sy strategie vir ‘n klimaat-veerkragtige Afrika.
# En ten slotte: Die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad hou môre ‘n skoonmaak-veldtog op Houtbaai se strand. Die doel is om oseaanbesoedeling te bekamp deur plastiek en rommel op te tel. Die veldtog gebruik ‘n metode wat op 12 artikels fokus wat dikwels die stad se strande besoedel. Die goedere wat opgetel word, insluitend plastieksakke, bottels, strooitjies en lekkergoedpapiertjies, word aangeteken om data oor die bronne en uitwerking van plastiek op die oseaan vir inwoners-wetenskapprojekte te verskaf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….