Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel beweer hy is in ‘n regshinderlaag gelei by die Internasionale Geregshof
# RISE Mzansi moedig kiesers in die buiteland aan om te stem
# En, tennis: Dit is vandag die halfeindstryde vir mans in Rome
# Israel het Suid-Afrika van ‘n regshinderlaag beskuldig in die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland. Hulle beweer die verhoor is onregverdig weens die onbeskikbaarheid van sy gekose regsverteenwoordigers. Suid-Afrika versoek bykomende noodmaatreëls teen Israel se aanslag op Rafah in Gaza. Israel se adjunk-prokureur-generaal, Gilad Noam, voer aan die beskuldigings van volksmoord is ongegrond en sê Rafah is ook ‘n Hamas-vesting met vuurpylterreine wat ingewortel is in die burgerlike bevolking:
# RISE Mzansi doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners in die buiteland om die naweek te stem. Meer as 78-duisend burgers is geregistreer om oorsee te stem by 111 Suid-Afrikaanse diplomatieke sendings oral in die wêreld. RISE Mzansi se leier, Songezo Zibi, sê hulle het die afgelope paar weke geslaagde aanlyn en fisiese vergaderings gehou met Suid-Afrikaners in die Verenigde Koninkryk, Mauritius, Tokio, die Verenigde Arabiese Emirate en ander lande:
# AVBOB-begrafnisdiens het aangebied om die werkers wat verlede week in die ramp in George dood is, gratis te begrawe. Drie-en-dertig werkers is dood terwyl 19 nog vermis word. AVBOB se woordvoerder, Gert Niehaus, sê hulle het reeds die oorskot van 25 werkers op hul perseel ontvang. Hy sê hulle sal aan buitelandse werkers kiste voorsien en al die nodige dokumente gereed kry sodat die families hulle geliefdes oor die grens kan vervoer. Families moet slegs die reiskoste betaal.
# AfriForum stel volgende week sy jaarverslag oor plaasaanvalle en -moorde vry. Die woordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, sê die verslag ontleed hierdie misdade en vergelyk dit met ander ernstige misdaad wat die polisie met spesiale strategieë beveg. Hy wys op misdaad soos taxigeweld, politieke sluipmoorde en transito-rooftogte wat deur toegewyde ondersoek-eenhede en taakspanne hanteer word. Broodryk wys daarop dat plaasmoorde nie spesiaal ondersoek word nie, terwyl die regering die ernstige aard daarvan dikwels miskyk of misken.
# Tennis: Dit is vandag die halfeindronde vir mans op die Italiaanse Ope in Rome. Die derde gekeurde Duitser, Alexander Zverev, pak eers die 29ste gekeurde Chileen, Alejandro Tabilo, wat die wêreld se nommer een, Novak Djokovic van Serwië, en die 16de gekeurde Rus, Karen Khachanov, uitgeskakel het onderweg na die voorlaaste ronde. Dan kom nog ‘n Chileen, die 21ste gekeurde Nicolás Jarry, teen die 14de gekeurde Amerikaner, Tommy Paul, te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-252-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-383-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….