Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi moedig kiesers in die buiteland aan om te stem
# Cosatu is bekommerd oor die Bela-wetsontwerp
# En, tennis: Dit is vandag die halfeindronde vir mans in Rome
# RISE Mzansi doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners in die buiteland om die naweek te stem. Meer as 78-duisend burgers is geregistreer om te stem by 111 Suid-Afrikaanse diplomatieke sendings oral in die wêreld. RISE Mzansi se leier, Songezo Zibi, sê hulle het die afgelope paar weke geslaagde aanlyn en fisiese vergaderings gehou met Suid-Afrikaners in die Verenigde Koninkryk, Mauritius, Tokio, die Verenigde Arabiese Emirate en ander lande:
# Cosatu verwelkom die Parlement se aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, maar is bekommerd oor sekere aspekte. Die wetsontwerp is aanvaar ondanks sterk teenkanting van die DA, die VF Plus en die ACDP. Dit stel aanpassings voor aan die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 en die Wet op Indiensneming van Opvoeders van 1998 om dit in ooreenstemming te bring met verwikkelings in die onderwyslandskap. Matthew Parks van Cosatu sê die Parlement moet sommige kwessies heroorweeg:
# Daily Maverick se ondersoekeenheid, Scorpio, het onthul die Sekretaris van die Parlement, Xolile George, se salarispakket is 92-persent hoër as wat goedgekeur is vir die pos. Hy is in 2022 op ‘n salaris van 2,2-miljoen-rand aangestel, in ooreenstemming met die advertensie, maar dit is daarna tot 4,4-miljoen-rand verhoog en bedra nou glo vyf-miljoen-rand. Scorpio sê volgens bewyse het George ‘n aandeel gehad in die opstel van sy kontrak. Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Amos Masondo, sê niks oneties of onwettig het plaasgevind nie.
# Tennis: Dit is vandag die halfeindronde vir mans op die Italiaanse Ope in Rome. Die derde gekeurde Duitser, Alexander Zverev, pak eers die 29ste gekeurde Chileen, Alejandro Tabilo, wat die wêreld se nommer een, Novak Djokovic van Serwië, en die 16de gekeurde Rus, Karen Khachanov, onderweg na die voorlaaste ronde uitgeskakel het. Dan kom nog ‘n Chileen, die 21ste gekeurde Nicolás Jarry, teen die 14de gekeurde Amerikaner, Tommy Paul, te staan. Môre gaan die twee top vroue in die wêreld, Iga Swiatek van Pole en Aryna Sabalenka van Belarus, sake in die eindstryd uitspook.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-240-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-382-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-52-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Gedenkdiens word vandag gehou vir die afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, Yvonne Mokgoro, by die Nelson Mandela-kinderfonds in Johannesburg. Mokgoro wat verlede Donderdag dood is, was geliefd, hooggeag en die eerste swart vrou in die land se hoogste hof. Die 75-jarige het 15 jaar in die hof gedien. Sy het afgetree nadat sy verlede jaar talle beserings opgedoen het in ʼn motorongeluk naby Kimberley in die Noord-Kaap. Mokgoro se lewensmaat is in verband met die ongeluk aangekla.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….