Nuus 08:00
BULLETIN 17 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA verwelkom die weiering van die regering se appèl teen beurtkrag
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging gaan regstappe teen die NGV doen
# En ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar wen die Deutsche Börse-fotografieprys
# ActionSA het die volle bank van die Hooggeregshof in Pretoria se besluit verwelkom om die regering se aansoek om verlof tot appèl teen die beurtkrag-uitspraak te verwerp. Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het verlede jaar beslis dis ongrondwetlik om krag na belangrike openbare instellings soos skole en hospitale af te sny. Die regering is beveel om hierdie openbare instellings van beurtkrag vry te stel. Mpho Madisha van ActionSA sê dis inspirerend om te sien die gereg is aan die kwesbaarste lede van die samelewing se kant:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het bevestig hy gaan die grondwetlikheid van die Nasionale Gesondheidsversekering in die hof uitdaag. President Cyril Ramaphosa het die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering Woensdag as wet bekragtig en die regering se hoogs aanvegbare plan vir universele gesondheidsdekking aan die gang gesit. Die vereniging se voorsitter, Mvuyisi Mzukwa, sê die NGV is nie ‘n haalbare oplossing vir universele gesondheidsdekking vir die Suid-Afrikaanse bevolking nie.
# Suid-Afrikaanse tabakmaatskappye het ‘n tussentydse hofbevel verkry wat die Inkomstediens keer om geslotebaankameras in hulle pakhuise te installeer. Die bevel van die Hooggeregshof in Gauteng, wat kommer aanspreek deur die Fair-Trade Independent Tobacco Association, keer dat die SAID die riglyn afdwing gemik op onwettige handel. FITA voer aan konstante observasie skend privaatheid en kan handelsgeheime ontbloot. Die bevel bly van krag totdat die meriete van die saak in die hof oorweeg is.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Iga Swiatek kom in die Italiaanse Ope se eindstryd teen nommer twee, Aryna Sabalenka, te staan. Die 22-jarige Pool het die Amerikaner Coco Gauff met 6-4 en 6-3 verslaan, terwyl die Belarus ʼn ander Amerikaner, Danielle Collins, met 7-5 en 6-2 geklop het. In die mansafdeling het die Chileen Nicolas Jarry die sewende gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland uitgeskakel om die halfeindronde te bereik. Tommy Paul van Amerika het Hubert Hurkacz van Pole verslaan. Sabalenka sê sy sien uit daarna om teen Swiatek te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-643-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-375-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-44-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Lebohang Kganye, het die gesogte Deutsche Börse Photography Foundation-prys gewen. Dis vir haar uitstalling Haufi nyana – I’ve Come to Take You Home, en word by die Fotograaf-galery in sentraal-Londen uitgestal. Kganye kombineer mondelinge geskiedenis, familie-foto-albums en teater-verhoë om die persoonlike geskiedenis van apartheid na te spoor. Die voorsitter van die beoordelaarspaneel, Claire Grafik, sê hulle het gehou van haar gebruik van teater om die gehoor in gesprek met die kunswerke te bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….