Nuus 15:00
BULLETIN 16 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se langverwagte verhoor is geskeduleer vir volgende jaar – twee dekades na die wapentransaksiebewerings
# Die Bela-wysigingswetsontwerp is gereed vir Ramaphosa se handtekening
# En, tennis: Tsitsipas wil terugkeer na die top vyf
# Oud-president Jacob Zuma sal na verwagtig volgende jaar verhoor word, 20 jaar nadat hy aanvanklik aangekla is in verband met die omstrede wapentransaksie. Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het die verhoor geskeduleer tussen April en September volgende jaar. Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thales word aangekla van korrupsie, rampokkery, bedrog en belastingontduiking. Die verhoor is herhaaldelik vertraag, onder meer deur pogings om die staatsaanklaer, Billy Downer, te verwyder. Die staat hoop daar sal geen verdere vertragings wees na ‘n voorverhoorkonferensie op 29 Augustus nie.
# Die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, of Bela, is nou gereed vir president Cyril Ramaphosa om dit as wet te onderteken. Die Nasionale Vergadering het die wysigingswetsontwerp vanoggend goedgekeur met die ANC, die EFF, die IVP, die NFP en die PAC wat ten gunste daarvan gestem het en die DA, die VF Plus, die ACDP en Al Jama’ah daarteen. Die wysigingswetsontwerp sal die finale seggenskap oor taal- en toelatingsbeleid oordra aan onderwyshoofde, terwyl dit op die oomblik in die hande van skoolbeheerliggame is. Verskeie groepe het aangedui hulle sal die wysigingswetsontwerp in die hof teenstaan.
# Die vakbond Solidariteit sê die onlangse loonooreenkoms tussen die Vereniging vir die Staal- en Ingenieursbedryf van Suider-Afrika en vakbonde in die bedingingsraad van die Metaal- en Ingenieursbedrywe kan lei tot ‘n massa-uittog van ambagslui. Vakbonde is ontevrede omdat die ooreenkoms geld tot 2027, en glo dit verlaag vaardige werkers se waarde. Willie Venter van Solidariteit sê teenstrydighede in voorgestelde loonverhogings wat net op bedryfsminimumkoerse van toepassing is, lewer min ware loongroei vir vaardige werkers:
# Tennis: Die sesde gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland sal probeer om sy goeie vorm op die kleibaan voort te sit wanneer hy vandag teen Nicolas Jarry van Chilli te staan kom in die kwarteindronde van die Italiaanse Ope. Tsitsipas het in 2021 ‘n loopbaan-beste bereik met die derde plek op die ATP-ranglys, maar daarna uit die top-tien teruggesak. Hy is tans in die agtste posisie. Die 25-jarige wil aanhou verbeter:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-125-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-64-sent per vat.
# En, vandag is Internasionale Dag vir die Seunskind en ‘n organisasie sonder winsbejag tree op as mentor vir seuns sonder pa’s, en bevorder waardes soos vriendelikheid, eerlikheid en selfdissipline. Die Character Company sê in gemeenskappe wat streef na verbeterde geslagsgelykheid, groter veiligheid en gelyke geleenthede vir vroue en meisies, kan seuns maklik oorgesien word. Die stigter en uitvoerende hoof, Jaco van Schalkwyk sê seuns kan nie ignoreer word en dan is mense verbaas as hulle ‘n produk word van die voorbeelde wat die samelewing stel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….