Nuus 13:00
BULLETIN 16 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Luthuli-familie verwelkom die heropening van die ondersoek na hoofman Albert Luthuli se dood
# Die Referendum-party gaan die DA in die Wes-Kaap in die openbaar aanvat
# En, boks: ‘n Krytaankondiger tree uit na die omstredenheid oor die aanwys van ‘n verkeerde wenner
# Die Luthuli-familie verwelkom die heropening van ‘n ondersoek na die dood van die voormalige ANC-president, hoofman Albert Luthuli. Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, het die heropening aangekondig, wat uitgebrei sal word na die dood van die anti-apartheidaktivis Griffiths Mxenge en die burgerregte-leier Booi Mantyi. Die ministerie verwys na voortgesette gissings oor Luthuli se dood in 1967, glo na hy deur ‘n trein getref is naby sy huis in Groutville, KwaZulu-Natal. Die familie sê die ondersoek sal vrae beantwoord wat oor die afgelope 57 jaar gevra word.
# Die Referendum-party ry vandag met ‘n mobiele advertensie-konvooi die heeldag om en om die Parlement en die DA se kantore in Millstraat, Kaapstad. Die partyleier, Phil Craig, sê die kernboodskap is dat na 15 jaar met ‘n volslae meerderheid in die Wes-Kaap, is dit steeds ‘n ekonomiese ramp-sone. Hy sê die premier, Alan Winde moet ‘n referendum oor onafhanklikheid vir die Kaap hou wat die provinsie se potensiaal sal ontsluit:
# FNB se senior ekonoom, Siphamandla Mkhwanazi, sê kleinhandelvolumes weerspieël steeds ‘n laer verbruikersvraag-omgewing, beïnvloed deur taai inflasie, hoë rentekoerse en onderdrukte verbruikersvertroue. Die heersende streng uitleenstandaarde, te midde van verhoogde skuldhanteringskoste en kredietversuim, behoort kredietgroei redelik te beperk, wat verbruikers se vermoë verder strem om aankope te bekostig. Mkhwanazi sê daar is vae tekens van hoop in die medium- tot langtermyn:
# Vyf Israelse soldate is in Gaza dood en sewe gewond in een van die dodelikste voorvalle van die aard sedert die oorlog in Oktober begin het. Die Israelse media sê die soldate is dood toe hulle per ongeluk deur hulle eie Weermag se tenkvuur getref is. ‘n Aanvanklike ondersoek het bevind die soldate het ‘n gebou in die Jabalia-vlugtelingkamp beset, naby Israelse tenks wat ook in die gebied gestasioneer is. Die tenk-bemannings het ‘n wapen in die gebou geïdentifiseer en twee skote in daardie rigting afgevuur.
# Boks: ‘n Krytaankondiger het besluit om uit te tree nadat hy erg gekritiseer is vir die aankondiging van die verkeerde wenner na ‘n vroue-WBA-kapokgewig-titelgeveg in Australië. Die Amerikaner Dan Hennessey het Nina Hughes van Engeland eers as die wenner aangewys, net om daarna die boksers te moes terugroep en te bevestig die wenner was eintlik die Australiër Cherneka Johnson. Hy sê op sosiale media die wêreldwye reaksie het sy geesteswelstand skade berokken en hy weier om langer die wêreld se slaansak te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-266-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….