Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, atletiek: Die tweemalige Olimpiese kampioen, Caster Semenya, sê sy hoop die Europese Menseregtehof sal in haar guns beslis. Die hof het gister die 32-jarige atleet se saak aangehoor waarin sy die vereiste uitdaag dat sy haar testosteroonvlakke moet verlaag om mee te ding. Sy is met verskille in seksuele ontwikkeling gebore en mag tans nie aan vroue se baan-items deelneem as sy nie middels neem om haar testosteroonvlakke te verlaag nie. Semenya sê sy veg vir wat reg is:
# Krieket: Die gewese Protea-sterkolwer Gary Kirsten sal min tyd hê om Pakistan se span te leer ken voor die begin van ‘n reeks van vier T20-wedstryde ten Engeland. Hy sluit Sondag as hoofafrigter by die span aan, met die eerste kragmeting wat Woensdag op Headingley gespeel word. Die twee lande gebruik die reeks as finale voorbereiding vir volgende maand se Wêreldbekertoernooi in Amerika en die Karibiese Eilande. Kirsten sê die toernooi is ‘n fantastiese geleentheid vir Pakistan om sy status as ‘n formidabele krag te bevestig.
# Tennis: Die wêreld se nommer-een-speler, Iga Swiatek van Pole, kom vandag in die halfeindstryd van die Italiaanse Ope teen die Amerikaner Coco Gauff te staan, wat tans derde op die wêreldranglys is. Die wêreld nommer twee, Aryna Sabalenka van Belarus, pak die Amerikaner Danielle Collins, wat 13de gekeur is. Dit is die eerste keer sedert 2013 se Franse Ope dat die wêreld se top drie vrouespelers die halfeindronde van ‘n WTA-toernooi haal wat ‘n puntetoekenning van 250 of meer het.
# Sokker: Manchester United, Chelsea en Newcastle is steeds in die wedloop om vir die Europese Konferensieliga te kwalifiseer. United het Newcastle 3-2 verslaan, terwyl Chelsea Brighton 2-1 geklop het om na die sesde plek op die punteleer op te skuif. ‘n Vyfde of sesde plek sal aan Chelsea ‘n plek in die volgende seisoen van die Europa-liga besorg, terwyl ‘n sewende plek slegs goed genoeg is vir die Konferensieliga. United, wat nou agtste lê, kan vir die Europese liga kwalifiseer as hulle Manchester City in die eindstryd van die FA-bekerkompetisie klop.
# En, gholf: Die hoof van die Amerikaanse PGA, Seth Waugh, sê Tiger Woods sal genoeg tyd kry om te besluit of hy Amerika se kaptein sal wees in volgende jaar se Ryderbeker-kompetisie in New York. Die 15-malige Major-wenner sê sy aandeel om ‘n ooreenkoms te onderhandel tussen die PGA Toer en Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds kan hom moontlik uitskakel. Europa het Amerika verlede jaar in Rome behoorlik verpletter. Waugh sê Woods doen niks waartoe hy nie ten volle verbind is nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….