Nuus 08:00
BULLETIN 16 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verdedig kommissaris Janet Love se opmerkings oor Zuma
# AfriForum begin met ‘n regsgeding teen die regering oor die NGV-wetsontwerp
# En Slowakye se eerste minister bly in ‘n kritieke toestand na ‘n sluipmoordpoging
# Die Verkiesingskommissie het bewerings ontken dat sy beslissing oor oudpresident Jacob Zuma se verkiesbaarheid bevooroordeeld was. Die OVK het ‘n geskrewe antwoord by die Konstitusionele Hof ingedien nadat dié hof duidelikheid gevra het oor verklarings wat kommissaris Janet Love gemaak het. Love het in Januarie gesê die Grondwet diskwalifiseer enige kandidaat met ʼn misdaadrekord om in die Nasionale Vergadering te dien. Die OVK sê Love het die opmerking gemaak voordat die MK-party sy kandidatelys ingedien het wat dit onredelik maak om teenkanting teen Zuma se kiesbaarheid te verwag.
# AfriForum maak hom gereed vir ‘n klasaksie-geding teen die regering, president Cyril Ramaphosa, die Parlement en die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, oor die onbekostigbare nasionale gesondheidsversekering. AfriForum se veldtogbeampte, Louis Boshoff, sê hulle beoog om die instel van die wetsontwerp te stuit en verantwoordelike partye aanspreeklik te hou. Hy het sy teleurstelling uitgespreek oor Ramaphosa se gebrek aan openbare verdediging van die wet:
# Die DA het die Stad Johannesburg gedagvaar oor sy omstrede BBP-beskermingsbeleid en sê dis onregmatig, ongeldig en ongrondwetlik. Die burgemeester Kabelo Gwamanda het na wat berig word tien lyfwagte en ʼn vloot luukse voertuie as deel van sy persoonlike sekuriteit. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê hulle het in die stad se nuwe begroting uitgawes opgespoor wat met menslike hulpbronne verband hou, en erg verkwistend is:
# Die Slowaakse eerste minister, Robert Fico, is geopereer nadat hy vyf keer geskiet is in ʼn vermeende polities gemotiveerde sluipmoordpoging. Die 59-jarige Fico is gister geskiet terwyl hy ondersteuners in die dorp Handlová, noordoos van die hoofstad Bratislawa, gegroet het. ʼn Verdagte is gearresteer. Fico het in Oktober met sy derde termyn as eerste minister begin ná sy veldtog waarin hy Westerse hulp aan Oekraïne gekritiseer het. Slowakye se president Zuzana Caputova sê die sluipmoordpoging is ook ʼn aanval op demokrasie.
# Tennis: Die wêreld se nommer-een-speler, Iga Swiatek van Pole kom vandag in die halfeindstryd van die Italiaanse Ope teen die Amerikaner Coco Gauff te staan. Swiatek gaan probeer om die eerste vrou te word om twee agtereenvolgende titels – in Madrid en Rome – in dieselfde seisoen in te palm, sedert Serena Williams dit in 2013 reggekry het. Die wêreld se nommer twee, Aryna Sabalenka van Belarus pak die Amerikaner Danielle Collins. Dit is die eerste keer sedert die 2013 Franse Ope dat die wêreld se top drie vrouespelers die halfeindronde van ‘n Vrouetennisvereniging-toernooi haal wat ‘n puntetoekenning van 250 of meer het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-30-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-388-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….