Nuus 18:00
BULLETIN 15 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa se visie vir die Nasionale Gesondheidsversekering is om armoede te pak deur gesondheidsorg meer bekostigbaar te maak
# Die VF Plus sê die ondertekening van die NGV toon die ANC se desperaatheid
# En, motorsport: Albon bly by Williams
# President Cyril Ramaphosa sê die Nasionale Gesondheidsversekering wil armoede pak deur gesondheidsorg meer bekostigbaar te maak. Hy het met die openbare ondertekening van die wetsontwerp gesê die stygende koste van gesondheidsorg dompel gesinne in armoede, en die NGV wil dié las verlig. Ramaphosa sê die NGV sal na verwagtig gesondheidsuitkomste verbeter, voorkombare sterftes verminder, en bronne beskikbaar maak vir arm gesinne vir ander noodsaaklikhede:
Intussen kritiseer die Vryheidsfront Plus Ramaphosa se tydsberekening met die ondertekening, en noem dit ‘n desperate stap deur die ANC. Die party meen die NGV is nie lewensvatbaar nie, en vergelyk dit met ander openbare ondernemings onder die regerende party wat ook misluk het. Die party beloof om die NGV in die Konstitusionele Hof te betwis. Die leier, Pieter Groenewald, moedig kiesers aan om alternatiewe te oorweeg in die komende verkiesing.
# Suid-Afrika se Voertuigbedryf-meesterplan, soos uiteengesit deur minister Ebrahim Patel, neem steeds vorm aan. Die plan wil die land se rol in die voertuigsektor ‘n hupstoot gee, met terugskouing oor die afgelope vyf jaar. Elektriese voertuie kry veral voorkeur as deel van Afrika se strategiese posisionering in die bedryf. Patel is vol vertroue die voortgesette ontwikkeling van hibriede en elektriese voertuie sal sy 2035-teiken bereik:
# Motorsport: Alex Albon het sy langtermyntoekoms by Williams bevestig na ‘n meerjarige kontrakuitbreiding met die Britse Formule Een-span. Die Thaise jaer is met Mercedes verbind na Lewis Hamilton se skuif na Ferrari in 2025, asook ‘n moontlike terugkeer na Red Bull. Albon het 27 van Williams se 28 punte gewen in verlede jaar se bestuurderskampioenskap, toe die span sewende geëindig het in die Vervaardigerskampioenskap. Dit was hulle beste plasing sedert 2017. Met ses wedrenne reeds agter die rug moet Alban egter nog punte aanteken in dié seisoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-149-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-362-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-57-sent per vat.
# En, dis vandag die 30ste herdenking van die Internasionale Jaar van gesinne, gefokus op klimaatsverandering se uitwerking op gesinne en hulle rol in klimaatsoptrede. Klimaatsverandering raak gesinne deur verhoogde besoedeling en uiterste weersomstandighede, wat lei tot ontworteling en verlies aan lewensmiddelle. Die Verenigde Nasies beklemtoon die behoefte aan drastiese optrede en staan familie-bemagtiging voor deur onderwys, asook volhoubare gewoontes en sirkulêre ekonomiese beginsels. Twee publikasies, Climate Change and Families, sowel as Home, Family, and Climate Change, word vandag bekendgestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….