Nuus 17:00
BULLETIN 15 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa moedig samewerking en solidariteit aan vir die sukses van die Nasionale Gesondheidsversekering
# Meta ontwikkel ‘n pasgemaakte benadering om die integriteit van die verkiesing te beskerm
# En, Olimpiese Spele: Span SA bevestig die eerste groep vir Parys en belonings vir medaljewenners
# President Cyril Ramaphosa het ‘n beroep gedoen vir samewerking en solidariteit om die sukses van die Nasionale Gesondheidsversekering te verseker. Hy beklemtoon hoe belangrik dit is om saam te werk om verskille te oorbrug en ‘n beter gesondheidsorgstelsel vir alle Suid-Afrikaners te bou. Ramaphosa, wat in Pretoria die Wetsontwerp op die NGV tydens ‘n seremonie onderteken het, sê dit het ten doel om gelyke toegang tot gesondheidsorg te bied, ongeag ekonomiese status, om ongelykhede in gesondheidsorg in die land hok te slaan:
# Die tegniese reus, Meta, stel ‘n pasgemaakte benadering in om die integriteit van Suid-Afrika se verkiesing te beskerm, en het ‘n Verkiesingshulpbronsentrum op sy webwerf geskep. Die benadering sluit in, feitebeheer-vennootskappe met Africa Check en AFP, opleiding vir regeringskommunikeerders en samewerking met die Verkiesingskommissie. Meta se pogings is daarop gemik om verkeerde inligting hok te slaan, veiligheid te bevorder en kiesers te bemagtig met gesaghebbende inligting voor die verkiesing op 29 Mei.
# President Recep Tayyip Erdogan beweer Israel sal Turkye teiken sou hy Hamas in die Gazastrook oorwin. Erdogan is ‘n sterk kritikus van Israel se oorlog in die Palestynse gebied na Hamas se aanval op 7 Oktober. Hy het dikwels steun uitgespreek vir die Palestynse groep as verdedigers van hulle tuisland. Die Turkse leier het vroeër gesê meer as ‘n duisend lede van Hamas word in Turkse hospitale behandel te midde van die voortgesette oorlog in Gaza.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het die eerste groep van 39 atlete bekend gemaak wat aan die Spele in Parys gaan deelneem. Onder hulle is Tatjana Smith, Chad le Clos en Wayde van Niekerk. Suid-Afrika mik na deelname aan 17 van die 32 Olimpiese sportsoorte. Die president van Saskok, Barry Hendricks, het ook die finansiële belonings aangekondig vir medaljewenners, met wenners van goud wat 400-duisend-rand kry met hulle afrigters 100-duisend-rand. Die wenners van silwermedaljes sal elk 200-duisend-rand kry en hulle afrigters 50-duisend. Bronsmedaljewenners kry 75-duisend-rand en hulle afrigters 25-duisend-rand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-704-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-370-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse musieklegende Stevie Wonder is Ghanese burgerskap toegestaan tydens ‘n besoek aan Akkra saam met sy gesin. Wonder sê dit is ‘n droom wat waar geword het om ‘n burger van die Wes-Afrikaland te word. Ghana se president, Nana Akufo-Addo, het Wonder se talent en Afrika-bande geprys en sê die burgerskap vereer sy merkwaardige prestasies en diepe verbintenis met die vasteland:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….