Nuus 16:00
BULLETIN 15 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Denosa sê die ondertekening van die Wetsontwerp op die NGV is ‘n mylpaal vir gesondheidsorghervorming
# Energiekenners eis die hersiening van die Gratis Basiese Elektrisiteit-beleid
# En, krieket: Rabada onttrek aan die IPL, maar hoop om fiks te wees vir die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die verplegingsorganisasie Denosa loof president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsorgversekering as ‘n aansienlike mylpaal in gesondheidsorghervorming. Die vakbond sê die stap verteenwoordig ‘n beslissende skuif weg van ‘n tweeledige gesondheidsorgstelsel na universele gesondheidsdekking, wat gelyke toegang verseker tot gesondheidsorg van gehalte, afgesien van finansiële status. Denosa se woordvoerder, Sibongiseni Delihlazo, verwag dit sal werksbevrediging onder verpleegkundiges en die meerderheid gesondheidsorgwerkers bevorder:
# ‘n Energiekenner, Chris Yelland, het sy stem bygevoeg om ‘n hersiening van die Gratis Basiese Elektrisiteit-beleid vir die toekoms te eis. Dit volg terwyl die land Nasionale Energiemaand vier. Die beleid se rol is om elektrisiteit te voorsien deur ‘n beperkte hoeveelheid gratis elektrisiteit aan arm huishoudings te verskaf. Die Regeringskommunikasie-en-inligtingstelsel het ‘n rondetafelgesprek aangebied en die paneel het elektrisiteitsvoorsiening in die land oor 30 jaar van demokrasie bespreek. Yelland het kwessies rondom toeganklikheid en bekostigbaarheid uitgelig:
# YouTube sê hy sal voldoen aan ‘n bevel van ‘n hof in Hongkong om toegang te beperk tot videos van ‘n verset-liedjie. Hongkong se appèlhof het verlede week die regering se versoek toegestaan vir ‘n verbod op “Glory to Hong Kong”, ‘n volkslied wat ontstaan het tydens die stad se pro-demokrasiebeweging in 2019. Die hofbevel verbied ‘n reeks optredes, waaronder die uitvoer en uitsaai van die lied met misdadige bedoelings. YouTube het bevestig hy sal Hongkongse verbruikers onmiddellik toegang verhoed tot 32 videos wat deur die hof aangedui is.
# Krieket: Die Proteas hoop steeds die sterbouler Kagiso Rabada sal betyds fiks wees vir volgende maand se T20-Wêreldbekertoernooi in die Karibiese Eilande en Amerika, al het hy onttrek aan die res van die Indiese Premierliga. Hy het ‘n beenbesering opgedoen terwyl hy vir Punjab Kings gespeel het, maar Krieket Suid-Afrika sê hy het net sterk antibiotika en rus nodig. Die mediese span hou hom fyn dop. Die Proteas speel op 3 Junie hulle eerste Wêreldbekerwedstryd teen Sri Lanka in New York.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-492-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-362-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-94-sent per vat.
# En, ‘n opname wat Corruption Watch onder een-duisend-500 deelnemers gedoen het, het ontstellende statistiek oor korrupsie in verskeie sektore onthul, insluitend interaksies met regters en landdroste. Tussen 600 en 700 deelnemers erken hulle het vir amptenare geskenke gegee of gunste gedoen. Ongeveer 24-persent het aangedui hulle het geskenke gegee of gunste gedoen vir polisiebeamptes, rybewys-beamptes en verkeersbeamptes. Ongeveer een uit elke tien het erken dat geskenke of gunste gegee is aan aanklaers, verkose regeringsverteenwoordigers en selfs regters of landdroste. Hierdie bevindings toon die wydverspreide aard van korrupsie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….