Nuus 14:00
BULLETIN 15 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die ANC se rampspoedige beleidsrigtings en korrupsie wurg die ekonomie
# CAPRISA ondersteun die grondwetlike uitdaging van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering
# En, krieket: Jimmy Anderson is oorreed om sy stewels op te hang
# ActionSA sê hy is diep bekommerd oor die land se werkloosheidskrisis wat al erger word. Volgens Statistiek Suid-Afrika het die land se werkloosheidskoers in die eerste kwartaal van die jaar tot 32,9-persent gestyg. Pieter Scribante van ActionSA sê die ANC se rampspoedige beleidsrigtings, voortdurende beurtkrag en korrupsie het die ekonomie gewurg en verhoed dat dit groei en werk skep:
# Die VIGS-navorsingsentrum, CAPRISA, ondersteun die moontlike grondwetlike uitdaging van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering. Die direkteur van die sentrum, Salim Abdool Karim, erken die wetsontwerp se verbintenis tot algehele gesondheidsorg, maar sê dit sal jare neem om die uitdagings te oorbrug. Hy het kommer uitgespreek oor swak bestuur, hoë werkloosheid en onvoldoende belastinginkomste. Karim sê te spyte van die NGV se strewe om gelyke toegang tot gesondheidsorgdienste te verskaf, sal korrupsie en Suid-Afrika se swak ekonomie die sukses daarvan aansienlik skaad.
# Die Suid-Afrikaanse Natuurlewe-rehabilitasiesentrum in Gauteng het inwoners en motoriste in Mnandi, Centurion, in kennis gestel oor berigte van ‘n groot koedoe-koei wat los rondlooploop. Leanne Hezlett van die sentrum het inwoners versoek om die owerhede in kennis stel indien hul die dier gewaar. Gister het hulle ‘n jong koedoebul verdoof in die omgewing, maar hy het ongelukkig gevrek. Hezlett het ook gewaarsku daarteen om te probeer om die dier te vang, wat bang en aggressief is:
# Krieket: Engeland se voorste paaltjienemer van alle tye, Jimmy Anderson, het nie alleen besluit om uit te tree nie. Die 41-jarige het vroeër die week aangekondig die eerste toets teen die Windies op Lord’s in Julie sal sy swanesang wees. Hy het in 187 toetse 700 paaltjies geneem. Engeland se besturende direkteur, Rob Key, het onthul hy, hoofafrigter Brendon McCullum en kaptein Ben Stokes het met Anderson vergader en hom oorreed dis tyd om uit tree. Anderson het onlangs gesê hy is die fiksste wat hy nog ooit was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-648-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-369-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die dokumentêr, South Africa Celebrates 30 Years of Freedom, het sy wêreld-debuut gemaak met die openingsgeleentheid van die 77ste Cannes Internasionale Rolprentfees in Frankryk. Dit is vervaardig deur Moments Entertainment en die Thabo Mbeki-stigting en spog met bekende name soos die legendariese skrywer, regisseur en draaiboekskrywer John Kani en die sangeres, liedjieskrywer en humanis, Yvonne Chaka Chaka. Die vervaardiger, Firdoze Bulbulia, het aan News24 gesê die dokumentêr bevat materiaal wat nog nooit voorheen gesien is nie en vertel hoe ‘n nuwe Suid-Afrika gebou is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….