Nuus 08:00
BULLETIN 15 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Peiling toon 47,3% van DA-ondersteuners is ten gunste van ’n koalisie met die ANC
# COPE blameer mislukte ANC-beleid vir die verswakkende werkloosheidsyfer
# En Trump se regspan probeer om die geloofwaardigheid van sy voormalige prokureur Michael Cohen af te breek
# Altesaam 51,8-persent van ANC-ondersteuners is teen ‘n ANC-DA-koalisie gekant terwyl slegs 28,8-persent ten gunste daarvan is. Dit is volgens ‘n peiling van die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Maatskaplike Ontwikkeling. Die voorspelling is die regerende ANC gaan sy meerderheid in die verkiesing op 29 Mei verloor. Dit toon dat 59,4-persent van DA-ondersteuners nie ‘n koalisie met kleiner partye steun nie, maar is meer positief teenoor ‘n koalisie met die ANC, met 47,3-persent wat daarvoor is. In die geheel is 38,9-persent van respondente gekant teen koalisies op nasionale regeringsvlak.
# COPE sê die regering onder ANC-leierskap het misluk om werk vir miljoene Suid-Afrikaners te skep wat bewys die party het ‘n doodloopstraat bereik wat beleid betref. Volgens Statistieke Suid-Afrika het die werkloosheidsyfer in die eerste drie maande vanjaar met 0,8-persent tot 32,9-persent geklim. COPE se woordvoerder, Pakes Dikgetsi, sê mislukte ANC-beleid vererger die land se werkloosheidskrisis:
# Die ANC in Gauteng het die wetgewer se Voorregte- en Etiekkomitee se bevinding teen die EFF se provinsiale sekretaris, Moshe Koma, verwelkom. Die komitee het bevind Koma het tussen Oktober 2019 en April vanjaar slegs 18 van 62 Huisvergaderings bygewoon en net een keer verskoning gemaak. Hy sê dit kom neer op bedrog. Die komitee beveel aan dit word na die Nasionale Direkteur van Vervolging verwys. Die ANC-woordvoerder, Lesego Makhubela, sê die reg moet nou sy verloop neem:
# Donald Trump se regspan beskuldig sy voormalige prokureur, Michael Cohen, dat hy ʼn persoonlike vendetta teen hom het. Cohen het gister vir die tweede dag in Trump se swyggeld-saak in New York getuig. Hy het erken hy het vals fakture ingedien vir regsdienste wat inderwaarheid vergoeding was vir geld wat hy namens Trump aan die gewese porno-ster, Stormy Daniels, betaal het. Die oudpresident staar 34 aanklagte van sakebedrog in die gesig omdat hy die terugbetaling aan Cohen as regsuitgawes voorgehou het.
# Sokker: Manchester City het goeie vordering gemaak op pad om ʼn vierde agtereenvolgende Premierliga-titel op te raap nadat hy Tottenham Hotspur met twee-nul verslaan het. Erling Haaland se doele in die tweede helfte het die oorwinning verseker en Pep Guardiola se span ʼn voorsprong van twee punte bo Arsenal gegee. City sal weer die trofee omhoog hou as hulle Sondag op die laaste dag van die seisoen op die Etihad-stadion met West Ham United kan afreken. Tottenham se kans op ʼn plek in die Kampioeneliga is egter verpletter. Guardiola sê sy spelers besef alles is nog nie verby nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-868-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….