Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf De Beers gaan in die volgende twee weke ‘n nuwe strategie bekendstel nadat Anglo American as deel van sy reuse-herstrukturering aangekondig het, De Beers is in die mark vir ‘n koper.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het uiteindelik besef welsynsbestuur in die provinsie stuur op ‘n ramp af. Die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se begroting is verhoog van 1,8-miljard-rand tot 2,4-miljard-rand.
Tweedens skryf die koerant die 40-jarige Jabulani Khangala wat die ongeluk veroorsaak het waarin Louw Badenhorst en sy dogter Michelle dood is, het ook aan sy beserings beswyk.
En laastens word berig die Chinese joernalis, Zhang Zhan wat in hegtenis geneem is oor haar berigte oor Covid-19 word nou vrygelaat.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die Verkiesingskommissie sê hy volstaan by sy besluit oor oudpresident Jacob Zuma nieteenstaande die aansoek in die Konstitusionele Hof.
En tweedens word berig die geregtelike ondersoek na die dood van die ANC-leier, hoofman Albert Luthuli wat in 1967 deur ‘n trein raakgery is, bring min troos vir sy familie.
# Sowetan:
Onthou die 28 mense wat ‘n jaar gelede in Hammanskraal noord van Pretoria dood is as gevolg van besmette drinkwater. Die naasbestaandes sê hulle wag steeds dat reg geskied.
# En The Citizen:
Skryf dit gee nie om wat oor die Nasionale Gesondheidsversekering gesê word nie – daar is bloot net nie fondse beskikbaar daarvoor nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig politieke partye, burgerlike organisasies, mediese liggame en mediese skemas maak gereed om Nasionale Gesondheidsversekering in die hof uit te daag. President Cyril Ramaphosa gaan die wetgewing vanmiddag onderteken.
En tweedens skryf die koerant die familie van Mandy Baily wat in Desember voor haar negejarige dogter doodgeskiet is, leef in vrees dat die beskuldigde, Alberto Matthews borgtog sal ontvang.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad oor die NGV.
En tweedens is daar nuus oor ‘n ontploffing op ‘n vissersboot in die Kaapstad-hawe wat Maandag die lewe van een geëis en verskeie mense beseer het. Dit was glo ‘n stikstoftenk wat ontplof het.
# En Cape Times:
Berig ook oor die hernude ondersoek na die dood van Albert Luthuli.
En skryf die NGV gaan die gesondheidslandskap in Suid-Afrika ingrypend verander.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig sommige van die oorlewendes van die ineenstorting van die gebou in George kyk na die moontlikheid om die maatskappye te dagvaar wat by die bou van die gebou betrokke is.
En skryf die werkloosheidskoers in die Oos-Kaap is die hoogste in die land. Dit staan nou op 42,4-persent.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Verkiesingskommissie het ‘n oorhaastige besluit geneem oor Jacob Zuma se deelname aan die verkiesing.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die moontlikheid word ondersoek om ’n waterstofpypleiding tussen Namibië en Suid-Afrika aan te lê wat handel sal bevorder.
En skryf die gemiddelde temperatuur vir die wintermaande van Mei tot Julie, toon ’n gemiddelde styging regoor Namibië.