Nuus 06:00
BULLETIN 15 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê koalisieregerings is ‘n gevaarsone
# BUSA waarsku die Gesondheidsversekeringswetsontwerp sal skadelik wees vir die gesondheidsektor en ekonomie
# En samesprekings oor ‘n wapenstilstand in Gaza het ‘n dooiepunt bereik
# President Cyril Ramaphosa sê die ANC is versigtig om ‘n koalisieregering te vorm weens die risiko van onbestendigheid soos gesien op plaaslike regeringsvlak. Volgens peilings sal die ANC dalk nie meer as 50-persent van die nasionale stemme in die algemene verkiesing van 29 Mei verkry nie. Dit sal die regerende party noop om ‘n koalisie te vorm om die mag te behou. Ramaphosa het gister by die Progressive Business Forum in Centurion gesê koalisies is ‘n gevaarsone:
# Business Unity South Africa waarsku die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering wat president Cyril Ramaphosa vandag gaan bekragtig, sal die gesondheidsorg-sektor en die ekonomie benadeel. Die organisasie sê die wetsontwerp is onwerkbaar en onbekostigbaar en sal beleggers-vertroue skaad. BUSA is ten gunste van universele gesondheidsdekking, maar glo die wetgewing sal toegang tot gehalte gesondheidsorg belemmer. Die aangewese uitvoerende hoof, Khulekani Mathe, sê hulle oorweeg regstappe om te verseker die wetgewing bevoordeel alle landsburgers:
# Dit het aan die lig gekom die Suid-Afrikaanse Ingenieursraad ondersoek die raadgewende ingenieur wat toesig hou oor die oprigting van die gebou in George wat ingetuimel het. Die gebou het verlede Maandag ineengestort en die lewens van 33 werkers geëis, terwyl 19 nog vermis word. Volgens News24 het die raad se ondersoekkomitee in Februarie aanbeveel dat Atholl Mitchell van verskeie oortredings van sy gedragskode aangekla word. Mitchell is nie skuldig bevind nie. Die raad se tribunaal sal binnekort die saak aanhoor.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê bykomende hulpbronne is bewillig om die moordenaars van ‘n vyfjarige seun in Soshanguve, noord van Pretoria, in hegtenis te neem. Ditebogo Junior Phalane is doodgeskiet toe ‘n groep gewapende verdagtes sy pa se bakkie gekaap het toe hy verlede Vrydagaand tuis gekom het. Cele, wat die seun se familie gister besoek het, sê hulle maak ook staat op tegnologie en ander instansies om die verdagtes op te spoor.
# Die eerste minister van Katar, Mohammed bin Abdulrahman Al-Thani, sê samesprekings oor ‘n wapenstilstand in Gaza en ‘n ooreenkoms oor die vrylating van gyselaars is byna op ‘n dooiepunt. Meer as 35-duisend Palestyne is dood in Israel se aanval op die Gaza-strook. Die oorlog het begin toe Hamas-militante Israel op 7 Oktober aangeval het, een-duisend-200 mense doodgemaak en 252 ontvoer het. Altesaam 133 gyselaars is glo steeds in gevangenskap in Gaza. Die eerste minister sê hulle sal aanhou druk plaas vir ‘n ooreenkoms:
# Krieket: Twee ervare spelers is uitgelaat toe Nederland se groep aangewys is vir volgende maand se T20-Wêreldbekertoernooi in die Karibiese Eilande en Amerika. Die Suid-Afrikaans-gebore Roelof van der Merwe en Colin Ackerman is vervang met die jonger Tim Pringle en Michael Levitt. Levitt het in Februarie beïndruk met ‘n blitsige honderdtal teen Namibië. Paaltjiewagter Scott Edwards bly aan as kaptein. Nederland speel sy groepswedstryde teen die Proteas, Sri Lanka, Bangladesj en Nepal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-598-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….