Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK bevestig Jacob Zuma is op die stembrief ingesluit
# BOSA sê hy sal misdadigers toesluit, maar die ANC stuur hulle Parlement toe
# En, tennis: Djokovic se oorwinnaar is deur na die kwarteindronde van die Italiaanse Ope
# Die Verkiesingskommissie sê die beslissing van die Konstitusionele Hof oor die saak tussen die OVK en die MK-party raak nie die stembrief nie. Die OVK appelleer teen ‘n uitspraak van die Verkiesingshof om Jacob Zuma op die stembrief toe te laat, ondanks ‘n vroeëre besluit om hom te verhinder weens sy gevangenisstraf van 15-maande. Die Verkiesingshof het die besluit van die OVK omgekeer. Die uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, bevestig Zuma se insluiting, want hy verteenwoordig die party:
Build One South Africa het intussen ‘n nuwe reklamebord vir die verkiesing in Johannesburg onthul wat die ANC beskuldig dat hy misdadigers Parlement toe stuur. Die party kritiseer die ANC se lys parlementêre kandidate, insluitend diegene wat in die verslag van die Zondo-kommissie by staatskaping betrek word. Hulle beplan om spesiale korrupsiehowe te vestig en boetes vir korrupsie te verhoog. BOSA se leier, Mmusi Maimane, het tydens die bekendstelling onderneem om misdadigers toe te sluit en die gehalte van verkose verteenwoordigers te verbeter:
# ‘n Energie-ontleder, Chris Yelland, waarsku Eskom is nog nie buite gevaar nie, ondanks onlangse verbeterings in die energiebeskikbaarheidsfaktor. Volgens Yelland waarborg korttermynwinste nie volgehoue vordering nie en hy waarsku daarteen om bloot te aanvaar die krisis is verby. Hy erken wel ‘n positiewe neiging, maar beklemtoon die belangrikheid van volgehoue prestasie en waarsku oor moontlike terugslae. Ten spyte van ‘n afname in dieselgebruik, dring Yelland aan op deurlopende waaksaamheid en sê doeltreffende bestuur is deurslaggewend om langtermyn bestendigheid in Suid-Afrika se kragvoorsiening te verseker.
# Tennis: Die sprokiesverhaal van Alejandro Tabilo van Chili duur voort op die Italiaanse Ope. Die wêreld nommer 32 het vandag deurgedring na die kwarteindronde in Rome toe hy die 16de gekeurde Karen Khachanov van Rusland in skoon stelle uitgeskakel het. Die 26-jarige Tabilo het die wêreld Sondag geskok deur die wêreld nommer een en sesmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, te verslaan. In ‘n ander wedstryd in die ronde van 16 moes Taylor Fritz van Amerika hard werk om Grigor Dimitrov van Bulgarye in drie stelle te troef.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-856-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-349-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: Die HUB-galery in Kaapstad bied tans ‘n uitstalling aan met die titel: 30 Years the Occupants. Dit bevat ʼn versameling foto-essays van Matthew Willman se Mandela-erfenisversameling, asook ʼn uitstalling van die Spier-versameling van moderne Suid-Afrikaanse kuns. Die uitstalling beeld drie dekades van demokrasie uit wat ʼn verskeidenheid post-apartheid-verhale bevat. Die Mandela-erfenisversameling spog met ʼn reeks foto’s wat oor jare geneem is en Nelson Mandela se reis en belangrike elemente van die vryheidstryd uitbeeld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….