Nuus 07:00
BULLETIN 14 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sal môre die omstrede Gesondheidsversekeringswetsontwerp onderteken
# Die Pluimveevereniging vra vir inenting om ‘n uitbreking van voëlgriep te voorkom
# En Cohen sê Trump wou die Daniels-storie geheim hou tot ná die 2016-verkiesing
# President Cyril gaan môre die Nasionale Gesondheidsversekering-wetsontwerp in die openbaar by die Uniegebou onderteken. Die omstrede wetsontwerp sal die regering se ambisieuse planne vir universele gesondheidsdekking inlei om ‘n verenigde gesondheidstelsel te skep. Opposisiepartye, sakeondernemings en professionele gesondheidswerkers verwerp die wetsontwerp en sê dis ongrondwetlik. Volgens die Presidensie sal die ondertekening die gesondheidstelsel help om maatskaplik-ekonomiese ongelykhede te oorkom.
# NUMSA het ‘n progressiewe loonverhoging van sewe-persent in die ingenieursektor verwelkom, wat inflasie oortref. NUMSA se sekretaris-generaal, Irvin Jim, sê die drie-jaar-ooreenkoms sluit verhogings vir die daaropvolgende ses jaar in. ‘n Beduidende ontwikkeling is die identifisering van fondse vir werkersbehuising. Hy prys die vakbond se stryd vir werkers se welsyn, en beklemtoon hul toewyding om lewens te verbeter:
# Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging vra onmiddellike ingryping om die H7N6-stam van voëlgriep teen te werk, nadat 9,5-miljoen voëls vankant gemaak is. Die vereniging staan verpligte inenting voor, maar streng regulasies kniehalter implementering. Hy sê sonder vergoeding vir voëls wat vankant gemaak is, is produsente onder finansiële druk, veral in kleiner ondernemings. Hy vra dringende samewerking met die minister van Landbou Thoko Didiza vir praktiese oplossings en om voedselsekuriteit te verseker.
# RISE Mzansi in Gauteng sê die voortslepende ineenstorting van water- en rioolinfrastruktuur in groot dele van Tshwane, Ekurhuleni en Johannesburg, is ʼn aanklag teen die ANC. Gauteng beleef ʼn waterkrisis weens vervalle waterinfrastruktuur en swak bestuur. RISE Mzansi se provinsiale sameroeper, Tebogo Moalusi, sê hulle het ʼn reeks korttermyndoelwitte wat die waterkrisis binne tien jaar kan omkeer indien daar nou opgetree word. Hy sê die Water- en Sanitasieplan sal vier dinge verseker:
# Donald Trump se gewese prokureur, Michael Cohen, het getuig die voormalige president wou die Stormy Daniels-storie tot ná die 2016-verkiesing geheim hou. Cohen het die gewese porno-ster geld betaal om stil te bly oor bewerings dat sy en Trump in 2006 in ʼn seksuele voorval betrokke was. Hy het aan die jurie gesê Trump was die baasbrein agter die swyggeld-skema al het hy nie self die betalings gemaak nie. Aanklaers voer aan Trump se terugbetaling aan Cohen in 2017 was misdadig omdat hy dit volgens hulle in finansiële state as regsuitgawes aangebied het.
# Motorsport: Mercedes sê hy bring die naweek nog opgraderings na die Emilia Romagna Grand Prix in Italië. As gevolg van vernietigende oorstromings wat die gebied verlede jaar getref het, was daar twee jaar gelede laas ʼn Formule Een-wedren in Imola. Mercedes se ingenieursdirekteur, Andrew Shovlin, sê hulle het die eerste helfte van die opgraderings in die Miami Grand Prix toegepas, wat tot verbeterings gelei het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-584-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….