Nuus 06:00
BULLETIN 14 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoofkontrakteur van die George-gebou is nie by die Ontwikkelingsraad vir die Boubedryf geregistreer nie
# Anglo American verwerp BHP se hersiene en verbeterde aanbod
# En krieket: Die Proteas en Windies sal drie T20’s speel om vir die Wêreldbeker-toernooi voor te berei
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, sê die hoofkontrakteur van die ineengestorte George-gebou was nie by die Ontwikkelingsraad vir die Boubedryf geregistreer nie. Die raad reguleer die bedryf. Die minister het George in die Wes-Kaap gister besoek om die bouterrein waar 32 werkers dood is en 20 vermis word, te beoordeel. Zikalala sê omdat Liatel Construction ‘n privaat maatskappy is, hoef hy nie by die raad te registreer nie:
Zikalala, sê intussen sy departement sal verseker diegene wat verantwoordelik is vir die George-ramp aanvaar aanspreeklikheid. Hy sê die doelwit is nie net om die oorsaak van die ineenstorting vas te stel nie, maar ook om voorkomende maatreëls aan te beveel om gebouveiligheid te verbeter en soortgelyke voorvalle in die toekoms te verminder:
# Anglo American het ‘n hersiene aanbod van die mynreus BHP verwerp as “onaantreklik”. BHP se nuwe aanbod waardeer Anglo American op 782-miljard-rand, vergeleke met die aanvanklike aanbod van sowat 740-miljard-rand. Anglo American se voorsitter, Stuart Chambers sê die aanbod onderwaardeer steeds die maatskappy se bates en vooruitsigte. BHP sê hy glo steeds die samevoeging van die ondernemings sal waarde inhou vir aandeelhouers.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele en die nasionale Polisie-kommissaris Fannie Masemola onthul vandag dringende polisiëringstrategieë in Soshanguve na die tragiese moord op ‘n vyf-jarige seuntjie tydens ‘n kaping. Die besoek sal volledige misdaadontledingsinligting insluit en skakeling met die gemeenskap oor hulle kommer. Die woordvoerder van die ministerie Lirandzu Themba sê die polisie soek aktief na die verdagtes op aanklagte van kaping en moord:
# Die regering van Maldive sê hy gaan aansluit by die geding wat Suid-Afrika teen Israel by die Wêreldhof ingedien het. Suid-Afrika het Israel beskuldig dat hy die Volksmoordkonvensie in die Gaza-strook verbreek het. Hy het ook die hof gevra om Israel te beveel om aan Rafah te onttrek. Die Maldive-regering sê Israel se aanvalle op Rafah het die humanitêre krisis in die afgesperde gebied vererger. Die regering veroordeel dit as ‘n skending van internasionale menseregte en die humanitêre reg.
# Krieket: Die Proteas se reeks van drie T20’s teen die Wes-Indiese Eilande is deel van die twee lande se voorbereiding vir die Wêreldbeker wat op die tweede van volgende maand in die Karibiese Eilande en Amerika begin. Suid-Afrika kom van volgende Donderdag af te staan teen die gashere en keer in Augustus terug om twee toetse en nog drie T20s te speel. Die Wêreldbeker begin met die aanvangswedstryd tussen Amerika en Engeland in Dallas en die eindstryd word op die 24ste in Bridgetown, Barbados gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-920-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-339-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….