Nuus 18:00
BULLETIN 13 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommer neem toe namate die dodetal in die rampp in George styg
# Polisielede is beseer in ‘n Nyala-ongeluk op die N1 in Kaapstad
# En, tennis: ‘n Voormalige wêreld nommer-een-speler word uitgeskakel in die ronde van 16 in Rome
# Die reddingsoperasie op die perseel van die ineengestorte gebou in George in die Wes-Kaap duur voort en die dodetal het nou tot 27 gestyg. Die voorval het by Victoriastraat 75 plaasgevind en 56 mense is gered, van wie 13 in die hospitaal is. Daar is egter nog 25 mense weg, wat bydra tot die dringendheid van die soek- en reddingspogings. Die Forensiese Patologiedienste se assistent-direkteur, Floyd Herwels, sê die owerhede werk onverpoosd om die identiteit van die slagoffers te bevestig:
# Nege lede van die openbare orde polisie-eenheid in Faure, Kaapstad, is beseer toe hulle pantservoertuig vanoggend naby die Okavangobrug omgeslaan het. Die provinsiale polisiewoordvoerder, FC van Wyk, sê die ongeluk is veroorsaak toe die bestuurder skielik rem getrap het. Dit het ammunisie uit die voertuig laat spat. Die beseerdes is op die perseel behandel en twee ernstige gevalle is per lugambulans afgevoer. Geen ander voertuie was betrokke nie. ‘n Saak van roekelose bestuur is by die Kraaifonteinse polisiekantoor ingedien.
# Die Stad Kaapstad sê Eskom het skielik gevorderde samesprekings afgelas oor die oordrag van sy toevoergebiede, ondanks uitgebreide voorbereidings. Eskom se bestuur het teen die oordrag besluit, en voer operasionele behoeftes aan. Burgemeester Geordin Hill-Lewis beloof om die oordrag steeds na te jaag vir meer betroubare en bekostigbare elektrisiteitsdienste. Hy sê samesprekings met Eskom sal voortduur terwyl die stad druk uitoefen vir verdere beoordeling:
# Arbeidswaarnemers en ekonome verwag nie veel van ‘n verandering in die werkloosheidsyfer nie. Statistieke Suid-Afrika gaan hierdie week die werkloosheidsyfers in sy kwartaallikse arbeidsmagopname bekend maak. Werkloosheid het amptelik tot 32,1-persent gestyg volgens die laaste data wat vir die vierde kwartaal van 2023 vrygestel is. Die ekonoom, Dawie Roodt, moedig buigsaamheid aan met die hantering van die werkskrisis, hangende die uitkoms van die verkiesing:
# Tennis: Die voormalige wêreld nommer-een-speler, Naomi Osaka van Japan, is uitgeskakel in die ronde van 16 op die Italiaanse Ope. Die viermalige Grand Slam-kampioen het tot 173ste op die ranglys geval nadat sy ‘n ruskans geneem het vir die geboorte van haar eersteling. Sy het in skoon stelle verloor teen die sewende-gekeurde Zheng Qinwen van China. Osaka het die eerste keer in drie jaar in Rome gespeel. Zheng kom in die kwarteindronde te staan teen die derde-gekeurde Coco Gauff van Amerika of die ongekeurde Paula Badosa van Spanje.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-963-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….