Nuus 13:00
BULLETIN 13 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Beroep vir ‘n oomblik van stilte om die tragedie in George te gedenk
# Joslin Smith se verdwyningsaak is uitgestel tot 15 Julie
# En, rugby: Die All Black-kaptein Sam Cane tree uit toetsrugby
# Dit is vandag ‘n week sedert die ineenstorting van ‘n gebou in George, die middag om nege minute oor twee. Die George-munisipaliteit vra in die lig hiervan inwoners van George en alle Suid-Afrikaners vir n oomblik van stilte op die spesifieke tyd en hulde te bring aan die slagoffers van die tragedie en hul gesinne wat hierdeur geraak word. Die dodetal staan nou op 24. Die munisipaliteit sê die gemeenskap is verenig in oordenking en solidariteit te midde van al die hartseer.
Intussen sê George se Forensiese Patologiedienste die proses om die slagoffers van die ramp uit te ken, sal tydrowend wees. Slegs een van die 24 liggame wat uitgehaal is, is nog met ‘n amptelike uitkenproses geïdentifiseer. Die dienste se assistentdirekteur, Floyd Herwels, sê die liggame is besig om te ontbind en daarom versnel hulle die proses:
# Die saak van die vermiste Joslin Smith is in die Landdroshof in Vredenburg in die Wes-Kaap uitgestel tot 15 Julie. Die beskuldigdes, naamlik die dogtertjie se ma, Kelly, haar vriend en nog twee mense, het vanoggend weer in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding. Die staat noem voortgesette ondersoeke, wat selfoon- en forensiese data-ontleding insluit. Die LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê die sesjarige meisie is nou reeds 84 dae weg en die staat moet ‘n sterk saak voorlê.
# Die African Transformation Movement vra die Verkiesingskommissie om enige betrokkenheid van Zanu-PF by die waarneming van die verkiesing te verwerp. Die ATM sê Zimbabwe se regerende party se geskiedenis van onlangse verkiesingswanpraktyke en kieserbedrog is welbekend, wat enige verkiesingsproses waarby hulle betrokke is, verdag maak. ATM-woordvoerder Zama Ntshona sê om ZANU-PF toe te laat om waar te neem kan die wettigheid en geloofwaardigheid van die verkiesingsproses skaad:
# Rugby: Die All Black-kaptein Sam Cane het aangekondig dat hy aan die einde van die seisoen sy toets-stewels gaan ophang. Die 32-jarige speler het besluit om ʼn driejaar-kontrak met die Japannese span, Suntory Sungoliath, te sluit. Hy is tans op sabbatsverlof by die Rugbyliga Een-span. Cane het in 95 toetse vir Nieu-Seeland uitgedraf, 27 daarvan as kaptein. Hy sê die hoofrede vir sy besluit is omdat hy sy gesin eerste wil stel:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-919-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….