Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Mei 2:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-vroue se afrigter, Louis Koen, sê dit was baie spesiaal en ‘n trotse oomblik toe die span vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland gekwalifiseer het. Suid-Afrika het Madagaskar 46-17 verpletter om hul titel as Afrika-kampioen te behou en hul plek in die Wêreldbekertoernooi te bespreek. Koen sê dis ʼn groot hupstoot vir al die betrokke spelers, bestuur en rolspelers wat saam op die reis is:
Nog nuus oor die sport is dat die All Black-kaptein, Sam Cane, aangekondig het dat hy aan die einde van die seisoen sy toets-stewels gaan ophang. Die 32-jarige speler het besluit om ʼn driejaar-kontrak met die Japannese span, Suntory Sungoliath, te sluit. Hy is tans op sabbatsverlof by die Rugbyliga Een-span. Cane het in 95 toetse vir Nieu-Seeland uitgedraf, 27 daarvan as kaptein. Hy sê die hoofrede vir sy besluit is omdat hy sy gesin eerste wil stel:
# Krieket: Ses spanne het steeds ‘n realistiese kans om die uitspeelrondes van die Indiese Premierliga te bereik. Net Kolkata Knight Riders het reeds kwalifiseer en Mumbai Indians sal nie die groepstryd oorleef nie. Royal Challengers Bengaluru het danksy vyf agtereenvolgende oorwinnings opgeskiet na vyfde plek op die punteleer. Die ander spanne wat meeding om die oorblywende drie plekke in die uitspeelrondes is Chennai Super Kings, Delhi Capitals, Rajasthan Royals, Sunrisers Hyderabad, Lucknow Super Giants en Gujarat Titans.
# Gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, het die Wells Fargo-kampioenskap die vierde keer gewen. Die speler van Noord-Ierland het in die laaste ronde ses onder 65 aangeteken om die Amerikaner, Xander Schauffele, in Quail Hollow in Charlotte met vyf houe te klop en sy 26ste PGA-toertitel op te raap. An Byeong-hun van Suid-Korea was derde na ʼn laaste ronde van 66. McIlroy sê hy is vol vertroue met die Amerikaanse PGA-kampioenskap by Valhalla, wat voorlê:
# En, sokker: Arsenal is weer boaan die Premierliga-punteleer met ʼn een-nul-sege oor Manchester United. Leandro Trossard se doel was genoeg om die oorwinning te beklink en seker te maak die titel-wedloop gaan deur na die laaste dag van die seisoen. Die Gunners is een punt voor die heersende kampioen, Manchester City, wat een wedstryd meer gespeel het. Arsenal speel Sondag in sy laaste wedstryd gasheer vir Everton terwyl City tuis met West Ham kragte meet. Arsenal se bestuurder, Mikel Arteta, sê dit is noodsaaklik dat hulle wen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….