Nuus 12:00
BULLETIN 13 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sterftesyfer na die ramp in George styg tot 24
# Thabo Mbeki vra ‘n ondersoek na hoofman Albert Luthuli se dood
# En rugby: Die Bok-vroue se afrigter is trots op hulle Wêreldbeker-kwalifikasie
# Die George-munisipaliteit het bevestig nog drie liggame is uit die puin gehaal waar ‘n gebou in die stad ‘n week gelede ingetuimel het. Die sterftesyfer staan nou op 24, en 28 mense is nog onder die puin vasgekeer. Daar was minstens 81 mense op die perseel toe die voorval plaasgevind het. Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge, Alvin Botes, en verteenwoordigers van die ambassades van Mosambiek, Malawi en Zimbabwe vergader vandag met die families.
Intussen sê George se Forensiese Patologiedienste die proses om die slagoffers uit te ken, sal tydrowend wees. Slegs een van die 24 liggame wat uitgehaal is, is reeds met ʼn amptelike uitkenproses geïdentifiseer. Die dienste se assistentdirekteur, Floyd Herwels, sê die liggame is besig om te ontbind en daarom versnel hulle die proses:
# Oud-president Thabo Mbeki is ten gunste van ‘n ondersoek na die dood van die Nobelprys-wenner hoofman Albert Luthuli, 57-jaar gelede. Luthuli was die leier van die ANC van 1952 tot sy dood in 1967, toe hy deur ‘n trein getref is terwyl hy oor ‘n noodbrug oor die Umvoti-rivier in KwaDukuza, KwaZulu-Natal, gestap het. Mbeki het gepraat op ‘n kransleggingsplegtigheid op die perseel en gesê dis belangrik om agter die waarheid te kom oor Luthuli se dood:
# Rugby: Die Springbok-vroue se afrigter, Louis Koen, sê dit was baie spesiaal en ʼn trotse oomblik toe die span vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland gekwalifiseer het. Suid-Afrika het Madagaskar 46-17 verpletter om hul titel as Afrika-kampioen te behou en hul plek in die Wêreldbekertoernooi te bespreek. Koen sê dis ʼn groot hupstoot vir al die betrokke spelers, bestuur en rolspelers wat saam op die reis is:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-860-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-347-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte, programme soos die BBC One se Happy Valley, The Sixth Commandment en Netflix se Top Boy was die groot wenners op vanjaar se BAFTA TV-toekennings in Londen. Sarah Lancashire is as Beste Aktrise bekroon vir haar vertolking in die laaste reeks van Happy Valley, terwyl die toekenning vir die Beste Akteur aan Timothy Spall gegaan het vir The Sixth Commandment. Die toekenning vir die Beste Dramareeks het aan Toy Boy gegaan. Strictly Come Dancing is as die Beste Vermaaklikheidsprogram bekroon, terwyl Squid Game: The Challenge die toekenning vir die Beste Realiteitsprogram gewen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….