Nuus 08:00
BULLETIN 13 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in George styg tot 21
# Thabo Mbeki herhaal die behoefte aan ‘n nasionale dialoog ná die verkiesing
# En, Putin verwyder sy minister van Verdediging met ’n gebrek aan innovasie as die rede
# Die dodetal ná die ineenstorting van ‘n gebou in George het tot 21 gestyg, terwyl 31 werkers steeds vermis word. Die George-munisipaliteit sê die primêre fokus is steeds op reddingspogings, maar hulle is ook besig met planne om die uitkenning van slagoffers wat gesterf het, te bespoedig. Dit sal gedoen word met die ondersteuning van die Forensiese Patologiediens en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Die munisipaliteit doen steeds ‘n oproep op beroepsielkundiges wat Chewa, Portugees en Shona kan praat, om die oorlewendes en hul gesinne by te staan.
# Die gewese ANC-president, Thabo Mbeki, het herhaal dat daar ‘n behoefte bestaan aan ʼn nasionale dialoog ná die algemene verkiesing op 29 Mei. Hy was gister op ʼn verkiesingsveldtog in KwaZulu-Natal. Die regerende party se steun het in die 2021 plaaslike verkiesing in baie munisipaliteite in die provinsie tot onder 50-persent gedaal. Dit sluit die eThekwini-metro in. Mbeki sê die ANC het nie al die antwoorde vir Suid-Afrika se probleme nie, maar moet seker maak hy stel bevoegde mense in magsposisies aan:
# Die moordverhoor van die voormalige Bafana Bafana-kaptein en doelwagter, Senzo Meyiwa, sal vandag in die Hooggeregshof in Pretoria hervat word ná ‘n onderbreking van twee weke. Die verhoor is uitgestel nadat die staat nuwe bewyse bekend gestel het wat verband hou met die selfoon-kommunikasie tussen al vyf beskuldigdes, wat van 2018 dateer. Die selfoondata-ontleder Gideon Gouws word weer in die getuiebank verwag. Meyiwa is in Oktober 2014 by sy vriendin, Kelly Khumalo, se huis in Vosloorus doodgeskiet.
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het sy jare lange bondgenoot Sergei Shoigu as minister van Verdediging verwyder en sê die land se stygende militêre besteding het vernuwing nodig. Shoigu, Rusland se langsdienende minister, het die weermag gelei deur sy inval in Oekraïne wat in 2022 begin het. Hy word aangestel as hoof van Rusland se Veiligheidsraad terwyl die gewese adjunk- eerste minister Andrei Belousov hom as minister van Verdediging vervang. Die Kremlin sê die een wat meer ten gunste van vernuwing is, is die een wat op die slagveld suksesvol sal wees.
# Sokker: Arsenal is weer boaan die Premierliga-punteleer met ʼn een-nul-sege oor Manchester United. Leandro Trossard se doel was genoeg om die oorwinning te beklink en seker te maak die titel-wedloop gaan deur na die laaste dag van die seisoen. Die Gunners is een punt voor die heersende kampioene, Manchester City, wat een wedstryd meer gespeel het. Arsenal was Sondag in hul laaste wedstryd gasheer vir Everton terwyl City tuis teen West Ham kragte gemeet het. Arsenal-bestuurder Mikel Arteta sê dit was noodsaaklik dat hulle wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-803-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….