Nuus 06:00
BULLETIN 13 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cele sê die ondersoek na die ineenstorting van die gebou in George het begin
# Beurtkrag word steeds opgeskort weens ’n volgehoue verbetering in opwekking
# En rugby: Die Springbok-vroue is op pad na die Wêreldbeker
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê die ondersoek na die ineenstorting van die gebou in George het begin. Die dodetal het tot 20 gestyg nadat nog drie liggame gister gevind is. Twee-en-dertig van die nagenoeg 81 konstruksiewerkers is nog nie gevind nie. Cele, wat die terrein besoek en met die werkers se familielede gepraat het, sê hulle het tien forensiese spanne op die toneel:
# Eskom sê kragopwekking raak geleidelik meer betroubaar, wat lei tot die opskorting van beurtkrag. Vandag is die 47ste agtereenvolgende dag sonder beurtkrag. Die kragvoorsiener se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die opskorting van beurtkrag is hoofsaaklik te danke aan die volgehoue verbetering in opwekkingsvermoë. Sy sê dit is as gevolg van uitgebreide beplande instandhouding gedurende die somer en die instelling van die Operasionele Opwekkingsherstelplan in Maart:
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, het sy skok uitgespreek oor die tragiese dood van ‘n leerder aan die David Makhubo High School in Kaalfontein. Die graad 12-leerder het Donderdag op die skoolterrein ineengestort en is dood verklaar toe die nooddienste op die toneel aangekom het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê voor die afsterwe aangekondig is, het sommige leerders flou geval:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê hulle glo Israel het meer burgerlikes as Hamas-terroriste gedood in die Gaza-oorlog. Die ministerie van Gesondheid in Gaza berig die aantal sterftes in die gebied as gevolg van Israelse aanvalle het tot meer as 35-duisend gestyg. Blinken het kommer uitgespreek dat ‘n groot grond-aanval op die suidelike Gaza-stad Rafah, tot wydverspreide burgerlike ongevalle sal lei. Minstens 300-duisend mense het sedert verlede week uit dié stad gevlug.
# Rugby: Die Springbok-vroue is op pad na volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland nadat hulle hul Afrika-vrouebekertitel suksesvol verdedig het. Hulle het die gasvrou, Madagaskar met 46-17 in die eindstryd by die Stade Makis in Antananarivo verslaan. Suid-Afrika is nou onoorwonne in ses agtereenvolgende toetse. Die Bok-vroue sal vandag in Suid-Afrika aankom, en die spelers sal na hul provinsies terugkeer vir die Premier-afdeling.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-390-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Eskom Expo sê ‘n groep van ses uitstekende jong wetenskaplikes van Suid-Afrika stel hulle briljantheid ten toon by die wêreld se grootste voor-kollege-kompetisie vir wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde in Los Angeles, Kalifornië. Die uitsonderlike jongmense het die geleentheid om tot Vrydag die land by die Renegeron Internasionale Wetenskap en Ingenieurs-tentoonstelling te verteenwoordig. Alutha Botha, Likitha Chundru, Keamogetse Monna, Zaahid Sader, Nicholas Zhang en Matthew Collier-Reed neem deel na hulle suksesvolle inskrywings by die Eskom Expo Internasionale Wetenskapstentoontstelling wat in Oktober verlede jaar gehou is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….