Nuus 13:00
BULLETIN 12 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê die ANC-regering koop stemme deur die opheffing van beurtkrag
# Cosatu sê Hisense se R1-miljard beleggingsverbintenis sal werksgeleenthede verseker
# En, tennis: Nadal is uit die Italiaanse Ope
# Die EFF-president, Julius Malema, sê die ANC-regering koop Suid-Afrikaners se stemme deur beurtkrag tydens die verkiesingstydperk op te hef. Hy het vandag ‘n saamtrek in De Aar in die Noord-Kaap toegespreek. Eskom het vandag vir 46 dae nog nie weer beurtkrag ingestel nie. Malema sê die EFF wil hê alle huishoudings moet krag hê en Eskom kan dit doen, want hy verkoop krag aan buurlande:
Intussen beskuldig RISE Mzansi se Jeugstudentebeweging lede van die ANC Jeugliga, wat leiers insluit soos Collen Malatji, dat hulle openlik die misbruik van staatsbronne steun vir die ANC se verkiesingsveldtog. Lawrence Manaka van RISE Mzansi sê om die verspreiding van staatsbronne te beperk tot ‘n spesifieke politieke groepering is teenstrydig met die fundamentele beginsels van die demokrasie. Hy voeg by sulke optrede verdiep verdeling en laat ongelykheid voortleef:
# Cosatu sê die massiewe beleggingsverbintenis van een-miljard-rand van Hisense oor die volgende vyf jaar sal werksgeleenthede verseker en ook nog geleenthede oor die hele waardeketting skep. Hisense, ‘n wêreldreus in elektronika, het sedert die opening van sy Atlantis-aanleg aan die Weskus in 2013, stelselmatig sy voetspoor vergroot. Matthew Parks van Cosatu sê die maatskappy het nou een-duisend-300 werknemers en steun 20-duisend werkers in die waardeketting:
# Tennis: Die wêreld se nommer nege Hubert Hurkasz het Rafael Nadal uit die Italiaanse Ope geboender. In wat waarskynlik die Spanjaard se laaste verskyning in Rome is, is die 37-jarige Nadal met 6-1, 6-3 in slegs 93 minute deur die Poolse speler uitgeskakel. Nadal, ‘n tienmalige wenner in die Italiaanse hoofstad, het in 2024 aangedui dit gaan moontlik sy laaste seisoen wees. Die 14-malige Franse Ope-kampioen moet nog besluit of hy vanjaar op Roland Garros gaan speel. Die toernooi begin op 26 Mei.
# En, ten slotte: Die spanne wat onverpoos werk by die George gebou wat ineengestort het, sê hulle omhels alle moeders op Moedersdag. Hulle salueer ook alle moeders op die toneel wat met toewyding deelneem aan die reddings- en herwinningspogings, asook die ondersteuningspanne. Hulle gedagtes is met die ma’s wat angstig wag vir nuus oor hulle geliefdes, die ma’s wat steeds vasgekeer is en diegene wat hulle ma’s aan die dood afgestaan het. Die jongste nuus is dat 17 liggame nou herwin is terwyl 35 mense nog nie opgespoor is nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….