Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse regering sê die identifikasieproses is die sleutelfokus in die ramp in George
# Zuma se aansoek vir die onttrekking van ses regters van die Konstitusionele Hof word van die hand gewys
# En, Israel is op pad na die eindronde van Eurovision ondanks betogings
# Die Wes-Kaapse regering sê die dood van 12 mense is bevestig na Maandag se ineenstorting van ‘n gebou in George, 40 is gered en 41 word nog vermis. Nog drie liggame is vanoggend gevind. Premier Alan Winde sê die identifikasieproses is ‘n sleutelfokus te midde van taal-uitdagings, maar dit sal uitgeklaar word met konsulêre verteenwoordigers. Winde het erken dit is ‘n ingewikkelde proses om slagoffers te identifiseer ondanks die toewysing van bronne:
# Oudpresident Jacob Zuma se aansoek om die onttrekking van ses regters van die Konstitusionele Hof, wat op die bank was tydens sy saak van minagting van die hof, is van die hand gewys. Die Verkiesingskommissie het die leier van die MK-party voor die hoogste hof gedaag nadat die Verkiesingshof beslis het hy mag in die Nasionale Vergadering dien ten spyte van sy vonnis en gevangenisstraf. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, sê hulle aansoek is gegrond op ‘n redelike bewys van vooroordeel:
# Die Israelse sangeres Eden Golan, het gekwalifiseer vir die eindronde van die Eurovision-sangkompetisie, na ‘n openbare stemming. Haar oorwinning was enkele ure nadat duisende pro-Palestynse betogers saamgekom het in Malmö, Swede, waar die kompetisie gehou word. Israel se deelname is ‘n bron van omstredenheid te midde van toenemende burgerlike sterftes en die humanitêre krisis in Gaza. Hoewel die betogings grotendeels vreedsaam was, is daar gewapende polisie buite die hotel waar Golan tuisgaan en sy is beperk tot haar kamer wanneer sy nie op die verhoog is nie.
# Boks: Die minister van Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en adjunkminister Nocawe Mafu, sal belanghebbendes van Boks Suid-Afrika raadpleeg om voornemende raadskandidate te kies. Raadpleging word vandag gehou om belanghebbendes in staat te stel om terugvoer te gee oor die potensiële aanstellings. Die woordvoerder, Litha Mpondwana, sê belanghebbendes het tot 13 Mei tyd om kommentaar te lewer. Die aanstellings sal kort daarna bekend gemaak word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-252-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Kuber-veiligheidskenner, Richard Frost, raai verbruikers aan om die kaart-tik-funksie op hul bankkaarte uit te skakel om bedrieglike transaksies te voorkom. Dit volg omdat misdadigers voortgaan om tik-en-betaal-geriewe by vulstasies uit te buit, en transaksies dupliseer wanneer slagoffers betalings doen. Frost waarsku teen swendelaars wat draagbare kaartmasjiene gebruik om onopgemerk fondse te bekom. Hy moedig die gebruik van PIN-kodes aan, of selfoonbetalings met verbeterde sekerheidskenmerke. Slimfoonbetalings stel perke en bied bykomende sekerheids-lae aan in vergelyking met kaarte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….