Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die perseel waar ‘n gebou in George ingetuimel het word tot vliegverbod-sone verklaar
# Suid-Afrika se boubedryf kan moontlike groei verwag
# En, sokker: Desiree Ellis en Rulani Mokwena verower COSAFA-toekennings
# Die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy het ‘n vliegverbod geplaas oor die terrein in George waar ʼn gebou Maandag ingetuimel het. Dit volg nadat ʼn privaat hommeltuig vanoggend gevlieg het oor die gebied waar reddingsoperasies plaasvind. Die George-munisipaliteit sê die vliegverbod sal streng toegepas word en hulle sal mense wat dit oortree, strafregtelik vervolg. Nege bouers is dood in die ramp en 44 word nog gesoek.
Intussen word voorbereidings getref vir Suid-Afrika se grootste bou-geleentheid, Big 5 Construct South Africa, wat van 4 tot 6 Junie plaasvind. Die land se boubedryf sal na verwagting van vanjaar tot 2027 met ʼn jaarlikse gemiddeld van meer as drie-persent groei. Die direkteur van die geleentheid se boubedryf-portefeulje, Mehtap Gürsoy, sê die groei-vooruitskatting word toegeskryf aan die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan:
# Die DA se premierskandidaat in Gauteng, Solly Msimanga, sê die brand van die digitale vlag verteenwoordig die land se agteruitgang. Hy het die regering tydens die Red SA-toer in Soweto beskuldig dat hy die drome van 1994 vermorsel het. Msimanga sê die regerende party tree op uit vrees en desperaatheid. Hy het herbevestig dat die DA Suid-Afrika wil red van kwessies soos bendebedrywighede, misdaad, armoede en werkloosheid:
# Sokker: Suid-Afrika het die eerste COSAFA-toekenningsplegtigheid oorheers wat in Johannesburg gehou is. Die toekenning vir Mansafrigter van die Jaar het aan Mamelodi Sundowns se afrigter, Rulani Mokwena, gegaan, terwyl Desiree Ellis, wat Banyana Banyana afrig, as Vroue-afrigter van die Jaar vereer is. Sundowns se spelers, Ronwen Williams, Thapelo Maseko en Andile Dlamini, is onderskeidelik as Mansdoelwagter van die Jaar, Mees belowende Manspeler en Vrouedoelwagter van die Jaar bekroon. Die Al Ahly-ster Percy Tau is as die Mansspeler van die Jaar aangewys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-895-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-368-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Die Natuurgeskiedenis-museum in New York gaan tot Januarie volgende jaar meer as 80 ikoniese stukke juweliersware uitstel wat vyf dekades van hip-hop verteenwoordig. Die uitstalling, getiteld Ice Cold: An Exhibition of Hip-Hop Jewellery, bevat stukke soos Nicki Minaj se Barbie-diamanthangertjie, Jay-Z se Roc-A-Fella-diamantmedalje en A$AP Rocky se halssnoer. Die museum se president, Sean Decatur, sê die juweliersware wat uitgestal word, maak ‘n belangrike deel uit van hip-hop-geskiedenis en -kultuur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….