Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC het sy voorstel oor die vasstelling van grense vir, en openbaarmaking van befondsing aan politieke partye aan die Nasionale Vergadering onttrek. Die party se hoofsweep, Noxolo Abraham sê dit sal ná beraadslaging weer ingedien word.
# En Mail & Guardian op ‘n Vrydag:
Lei met: “ESKOM IS BURNING THE BUDGET”. Die koerant skryf die kragverskaffer verbrand duisende liter diesel om die ligte aan te hou.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei vanoggend weer met die jongste oor die gebou-ramp in George. Die koerant berig die eienaar van die gebou kan na bewering nêrens opgespoor word nie en regeringsamptenare kon nog nie met die persoon vergader nie.
En tweedens skryf die koerant die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het glo sy befondsing aan kinderbeskermingsorganisasies opgeskort omdat hulle reeds genoeg geld maak.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het politieke partye gewaarsku oor hul optrede tydens hul verkiesingsveldtogte.
En berig oor die afsterwe van die afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, die 73-jarige Yvonne Mkgoro.
# Sowetan:
Lei met: “OWNERS VANISH”. Die koerant berig oor die George-ramp en noem die name van twee eienaars van die gebou wat volgens die regering nie opgespoor kan word nie.
# En The Citizen:
Skryf die herstelwerk aan die M1-brug oor Smitstraat in Johannesburg waar ‘n brand in ‘n tonnel uitgebreek het, kan tot 33-miljoen-rand beloop. Die brug behoort teen 20 Mei weer oopgestel te word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die George-ramp. Die koerant skryf oor die Bloemfonteinse chirurg, dokter Deon Menge wat betrokke was by die reddingsoperasie.
En tweedens is daar ‘n berig oor kaptein Karel du Toit van die polisie se Noord-Kaapse eenheid vir veediefstal en beskermde en bedreigde spesies wat in verband met beweerde bedrog in hegtenis geneem is. Hy is op borgtog van 50-duisend-rand vrygelaat.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die soektog na oorlewendes in die puin van die gebou in George wat ingetuimel het, duur nou reeds 72 uur. Die koerant skryf die ramptoneel is nou ‘n misdaadtoneel en berig ook oor die eienaars wat glo nie opgespoor kan word nie.
# En Cape Times:
Het dieselfde berig as The Star en Pretoria News oor die Menseregtekommissie se waarskuwing aan politieke partye.
En skryf ‘n maatskaplike werker sê die George-ramp het ‘n baie groot uitwerking op die gemeenskap.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n senior munisipale amptenaar sê die George-ramp kon voorspel word.
En skryf die Bill & Melinda Gates Mediese Navorsingsinstituut gaan ‘n nuwe tuberkulose-entstof in Nelson Mandelabaai toets.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is ernstige probleme met oorvol lykshuise in eThekwini.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die besluit om twee bestuurders van die Walvisbaai-munisipaliteit te skors, hou glo verband met die ondersoek na die aanstelling van die skuldinvorderaars, RedForce.
En skryf tweedens Westair het ‘n gedenkdiens gehou ter nagedagtenis aan die slagoffers van Vrydag se vliegongeluk in Windhoek.