Nuus 06:00
BULLETIN 10 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die eienaars van die konstruksiemaatskappy ontduik die owerhede ná die George-gebouramp
# Die Suid-Afrikaanse Energieraad sê die opskorting van beurtkrag is nie ’n verkiesingsfoefie nie
# En Israel kritiseer Biden oor sy dreigement om wapenuitvoere te staak oor ‘n inval in Rafah
# Die Wes-Kaapse Departement van Indiensneming en Arbeid se hoofinspekteur, David Esau, het onthul niemand weet waar die eienaars van die konstruksiemaatskappy is wat verantwoordelik was vir die oprigting van die gedoemde gebou in George nie. Die gebou het Maandag ineengestort en die voorval het reeds tot agt sterftes en talle beserings gelei. Esau sê ten spyte van mislukte pogings om die onderneming se eienaar te kontak, duur ondersoeke na die saak voort en versekerings word aan die families van slagoffers gegee:
# Die Suid-Afrikaanse Energieraad sê die verligting van beurtkrag is nie ‘n verkiesingsfoefie nie, maar die gevolg van die regering en sakegemeenskap se vordering om die elektrisiteitskrisis op te los. Die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, beweer Eskom verbrand meer diesel wat tot verhoogde uitgawes lei. Hy sê die kragvoorsiener het in 2022 sowat 19-miljard-rand se diesel verbrand en verlede jaar byna 30-miljard-rand. Die raad sê die vordering met die verbetering van Suid-Afrika se energiesekerheid is opreg en volhoubaar.
# Kontrakteurs het die groen lig gekry om te begin met die herbou van die Nasionale Vergadering wat in 2022 deur ‘n brand verwoes is. Sedert die brand het spanne die puin opgeruim, ‘n tydelike dak opgerig en die terrein beveilig. Die totale koste van die projek word op sowat drie-miljard-rand beraam. Die bouwerk begin vandag. Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Amos Masondo, sê dit sal na verwagting teen Februarie 2026 voltooi wees:
# Die voormalige ANC-adjunkpresident David Mabuza het die party se hernuwingsprojek in Alexandra, Gauteng verdedig en gesê merkwaardige vordering is gemaak sedert 1994. In April 2019 het president Cyril Ramaphosa belowe om as deel van die projek met 1,3-miljard-rand altesaam een-miljoen huise oor sewe jaar te bou. Mabuza het gister tydens sy veldtog in die land se oudste township gesê die ANC het nie Alexandra-inwoners in die steek gelaat nie:
# Top Israelse amptenare kritiseer Amerika se president Joe Biden vir sy dreigement dat die lewering van sekere wapens gestop sal word indien Israel die stad Rafah in Gaza sou inval. Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Gilad Erdan, sê dis ‘n teleurstellende standpunt deur ‘n president wat hulle sedert die begin van die oorlog ondersteun het. Israel het internasionale besware ignoreer deur tenks in te stuur en geteikende klopjagte in die ooste van Rafah uit te voer. Israel sê Rafah is die tuiste van Hamas se laaste oorblywende bataljonne.
# Krieket: Vanjaar se SA20 het 20-persent meer televisiekykers gelok as verlede jaar se aanvangseisoen. Tien van die 34 wedstryde is uitverkoop, insluitend die eindstryd op Nuweland, waar die Sunrisers Eastern Cape hulle titel behou het deur Durban’s Super Giants te klop. Meer as 80-persent van die beskikbare kaartjies is verkoop, terwyl 96-persent van die toeskouers die stadion-ondervinding as baie lekker beskryf het. Die kommissaris van die liga, Graeme Smith, gee krediet vir die suksesvolle seisoen aan ondersteuners, vennote, spelers en belanghebbers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-741-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-353-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….