Nuus 13:00
BULLETIN 9 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ononderbroke kragtoevoer gee Suid-Afrika se ekonomie ‘n broodnodige hupstoot
# Kommer neem toe oor die Kaapstadse hawe se vermoë om die toenemende sitrusuitvoer te hanteer
# En ‘n voormalige Olimpiese verspring-kampioen verwag nie ‘n groot opskudding in dié item in Parys nie
# Die ekonomie het voordeel getrek uit die opskorting van beurtkrag vir meer as ‘n maand, met ‘n verbetering in verskeie ekonomiese bedrywighede. Die vervaardigings-aktiwiteit het in April opgevlam, soos aangedui in die Aankopebestuurders-aanwyser, weens die volgehoue kragtoevoer. BankServ Africa se Ekonomiese Transaksie-aanwyser het ook in dié tydperk ‘n agt-maande hoogtepunt bereik, wat dui op positiewe sentiment. Die ekonoom Dawie Roodt sê as die elektrisiteitsvoorraad bestendig bly, kan die plaaslike ekonomie die verwagte groeikoers van een-persent oorskry:
# Die Wes-Kaapse regering vra dringende optrede omdat die Kaapstadse hawe nie sy herstelteikens bereik nie. Dit wek kommer te midde van ‘n verwagte toename in sitrus-uitvoere. Ondanks uitgebreide pogings bly die hawe se skeepswerks-ure onder teiken, wat twyfel laat ontstaan oor die hantering van die komende hoogtepunt van die sitrusseisoen. Transnet se Kaapstadse skeepshouer-terminaal haal nie sy produktiwiteits-teikens nie. Premier Alan Winde vra ‘n dringende hersiening van die herstelplan en die betrokkenheid van die privaat sektor om doeltreffendheid te verbeter en die ekonomie te beskerm.
# Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling sê ondersoek word ingestel om die oorsprong van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap te vind. Die virus is op twee melkplase in Humansdorp geïdentifiseer. Dit bring die totale bek-en-klouseer-gevalle in Suid-Afrika op 167 te staan. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê hulle moet aandag gee aan die bedryf se gebrek aan praktyke en biosekerheid wat tot die verspreiding gelei het:
# Die Verenigde Nasies is bekommerd oor tientalle cholera-gevalle in die vloedgeteisterde Kenia. Die dodetal weens die reën en vloede het reeds tot meer as 250 gestyg. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê 44 cholera-gevalle is in die Tana-rivier provinsie aangemeld, wat een van die gebiede is wat die ergste getref is deur die weke lange storms en oorstromings. Cholera is ‘n akute derm-toestand wat deur besmette kos en water versprei word en erge diarree, braking en spierkrampe veroorsaak. Dit kan veral gevaarlik wees vir jong kinders.
# Olimpiese Spele: Die viermalige goue medaljewenner in verspring, Carl Lewis, verwag nie vanjaar ‘n groot opskudding in dié item op die Spele in Parys nie. Die Amerikaner het die item gewen op vier agtereenvolgende Spele, van 1984 tot 1996, en ook twee wêreldtitels ingepalm. Lewis beskryf die verspring as die moeilikste van alle veld-items en bevraagteken die geesteskrag van die huidige atlete. Die wêreldrekord staan tans op 8,95 meter en die Olimpiese rekord op 8,90 meter, terwyl Miltiadis Tentoglou van Griekeland op die Spele in Tokio goud gewen het met ‘n sprong van 8,41 meter.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-183-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-310-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….