Nuus 12:00
BULLETIN 9 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Sterk telekommunikasie-infrastruktuur is noodsaaklik tydens die verkiesing
# Meesterbouers van Suid-Afrika spreek medelye uit met die slagoffers van die gebou-ineenstorting in George
# En, rugby: Die Leeus mik steeds na hulle eerste VRK-uitspeelplek
# Die Kommunikasierisiko-inligtingsentrum sê met die naderende algemene verkiesing kan die behoefte aan veilige en betroubare kommunikasiekanale nie oorbeklemtoon word nie. Die uitvoerende hoof, Thokozani Mvelase, sê telekommunikasie-infrastruktuur sal ‘n belangrike rol speel om probleemvrye kommunikasie te verseker onder kiesers, verkiesingsliggame en alle rolspelers wat by die stem-proses betrokke is. Hy sê die basiese risiko is moontlike inmenging by die verkiesingsproses wat verskeie vorms kan aanneem, soos data-skendings, stelselkrakers en die verspreiding van vals inligting.
# Meesterbouers van Suid-Afrika het hartseer uitgespreek oor die ineenstorting van ‘n vyfverdieping-gebou Maandag in George. Die president, Musa Shangase, het sy medelye betuig met die slagoffers se gesinne en kollegas, en bedank almal wat by die reddingspogings betrokke is. Shangase het hulle kommer benadruk oor die veiligheid van bouterreine en bevestig hul ondersteuning in ondersoeke. Hy sê die Federasie van Werkgewers in die Boubedryf bly daartoe verbind om te verseker dat beroepsgesondheids- en -veiligheidstandaarde gehandhaaf word.
# Die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê sy maatskaplike werkers stuur agt tienerseuns van Mosambiek terug huis toe. Die seuns van tussen 13 en 17 is tydens ʼn polisieklopjag gevind nadat die Departement van Indiensneming en Arbeid daarvoor gevra het. Maatskaplike Ontwikkeling se woordvoerder, Themba Gadebe, sê hulle het in Januarie inligting ontvang dat ʼn Chinese fabriek in Nigel kinders en onwettige buitelandse burgers in diens het:
# Rugby: Die Leeus mik steeds na ‘n plek in die uitspeelronde van die Verenigde Rugby Kampioenskap vir die eerste keer. Hulle moet hulle oorblywende drie wedstryde wen om ‘n kans te hê en kom Saterdag te staan teen die Walliese span, Cardiff Blues. Die Leeus het dié seisoen soms briljant gespeel, maar in ander wedstryde gestruikel. Die voorspeler-afrigter Barend Pieterse sê die onbestendigheid is frustrerend:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-193-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-312-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep, SADAG, sê selfdood onder leerders is ‘n groot probleem. Vier leerders het onlangs binne tien dae vermoedelik selfdood gepleeg by die Sekondêre Skool Eqinisweni in Ivorypark in Midrand, Gauteng, deur gif te drink. SADAG sê minstens 70 skole het die afgelope ses maande selfdood-gevalle of -pogings aangemeld. Hy sê die probleem moet op ʼn meer progressiewe en dinamiese manier hanteer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….