Nuus 09:00
BULLETIN 9 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar word meer werkers vermis in die George-gebou as wat aanvanklik vermoed is
# Die Verkiesingskommissie sê ‘n tydige uitspraak is belangrik oor Zuma se geskiktheid as kandidaat
# En André de Ruyter sê meer geld word aan diesel bestee om verligting aan beurtkrag te bring
# Die George-munisipaliteit sê ná noukeurige bestudering van die veiligheidsrekords, is vasgestel daar was 81 werkers op die toneel in George waar die gebou ingetuimel het, en nie 75 soos aanvanklik berig is nie. Sewe-en-dertig mense is uit die puin gehaal waarvan agt dood is terwyl 44 steeds vermis word. Die munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê die reddingspogings gaan voort:
# Die Verkiesingskommissie sê ‘n spoedige uitspraak deur die Konstitusionele Hof of Jacob Zuma vir die Parlement mag staan, is belangrik vir ʼn vrye en regverdige verkiesing. Die hoogste hof hoor môre die OVK se appèl aan teen die Verkiesingshof se beslissing verlede maand dat die oudpresident ten spyte van sy misdaadrekord vir die Parlement mag staan. Die OVK-voorsitter, Mosotho Moepya, sê die Konstitusionele Hof wil duidelikheid hê oor wanneer en hoe hulle Artikel 47 van die Grondwet kan toepas.
# Die voormalige Eskom-hoof, André de Ruyter, glo die regering koop meer diesel aan wat tot die tydelike verligting in beurtkrag lei. Hy was gister ʼn gas by PSG Finansiële Dienste se jaarlikse konferensie. De Ruyter sê tydens sy termyn by die kragverskaffer het hulle slegs sowat ses-miljard-rand per jaar aan diesel bestee om met die oopsiklus-gasturbines krag op te wek. Hy sê vanjaar se dieselbegroting is 24-miljard-rand wat vier keer meer is as wat hulle tot hul beskikking gehad het.
# TikTok het met regstappe begin om ‘n Amerikaanse wet te probeer stop wat die toepassing verbied tensy sy Chinese moedermaatskappy dit verkoop. Die sosiale mediareus voer aan die wet maak inbreuk op sy 170-miljoen Amerikaanse gebruikers se reg tot vryheid van spraak. President Joe Biden het die wetsontwerp verlede maand onderteken, met verwysing na kommer oor nasionale veiligheid weens die Chinese eienaarskap. TikTok bepleit egter sy onafhanklikheid van die regering, terwyl sy moedermaatskappy, ByteDance, ontken dat hy beplan om te verkoop.
# Gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, sê hy staan nie op die punt om hom weer by die PGA-toer se beleidsraad aan te sluit nie. Webb Simpson het na wat berig word verlede maand aangebied om uit die raad te bedank en versoek dat McIlroy sy plek inneem. Die 35-jarige se heraanstelling is onderworpe aan ‘n stemmery deur raadslede. McIlroy sê sommige raadslede was ongemaklik oor sy moontlike terugkeer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-547-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-318-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….