Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die regering het op die vooraand van die verkiesing ‘n verslag vrygestel waarin hy sê hy het die afgelope 30 jaar Suid-Afrikaners se lewens aansienlik verbeter. Dit is ten spyte van groeiende frustrasie oor werkloosheid, kragvoorsiening, swak infrastruktuur, lae ekonomiese groei, misdaad en korrupsie, en die styging in lewenskoste.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei weer met die jongste oor die gebou-ramp in George. Die koerant berig 38 werkers word steeds vermis en daar is geen kontak met vasgekeerde werkers uit die puin nie. Teen spertyd het die dodetal op agt gestaan.
En tweedens skryf die koerant oor Shalane Botha van Wonderboom se troetel-hoenders.
# The Star en Pretoria News:
Skryf president Cyril Ramaphosa is gekritiseer oor die positiewe prentjie wat hy skets oor die afgelope 30 jaar se demokratiese regering onder ANC-bewind.
En berig oor ActionSA se Gautengse premierskandidaat, Funzi Ngobeni wat gekaap en ontvoer is.
# Sowetan:
Berig oor die dood van die 14-jarige jong netbalster, Nomfundo Khumalo nadat sy na bewering blootgestel is aan ‘n toksiese middel. Sy was 17 dae in ‘n koma in die hospitaal.
# En The Citizen:
Skryf politieke ontleders stem saam met oudpresident Thabo Mbeki dat Suid-Afrika ‘n nasionale dialoog moet hou, maar bevraagteken sy voorsitterskap van so ‘n gesprek.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het ‘n reuse-lugfoto van die George-ramptoneel op sy voorblad. Die koerant skryf al wat oorgebly het is stilte.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die George-gebouramp en ‘n lugfoto van die toneel. Die koerant het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
# En Cape Times:
Skryf Cosatu het dringende optrede geëis ná die ineenstorting van die gebou in George.
En berig dis vroue en kinders wat die swaarste kry in Gaza.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Bring eerstens hulde aan die talle nooddienswerkers wat betrokke was by die reddingspoging in George. Die koerant berig hulle het die lot van die slagoffers eerste gestel.
En tweedens skryf die koerant Nelson Mandelabaai loop deur onder ‘n griep-vlaag met honderde pasiënte wat aanklop by hospitale se nood-eenhede en huisdokters.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die MK-party het ‘n versoekskrif aan die Msunduzi-munisipaliteit oorhandig waarin hy eis dat daar binne ‘n week aandag gegee word aan diensleweringsprobleme.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Hemelvaartdag word vandag in Namibië herdenk en daar is geen uitgawe van die koerant nie.