Nuus 06:00
BULLETIN 9 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nooddienste sukkel met strukturele uitdagings tydens die reddingspoging in George
# Die DA se leiers word strafregtelik aangekla vir vlagverbranding en belastingoortredings
# En rugby: Die Springbok-vroue is op pad om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer
# Noodreddingspanne staar strukturele struikelblokke in die gesig in hulle reddingsoperasie, ná die ineenstoring van ‘n gebou onder konstruksie in George. Die Universiteit Stellenbosch se hoof van Struktuur- en Brand-ingenieurswese, Richard Walls, sê hulle moet meer as drie-duisend-ton beton verwyder om vasgekeerde oorlewendes te bereik óf om slagoffers se liggame te herwin. Walls sê 38 mense moet nog gered word en swaar toerusting moet nou ontplooi word om te help met die soek-, reddings- en herwinningspogings:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê hoewel daar reusagtige mylpale soos die einde van apartheid was, lê daar nog baie werk voor om te verseker dat vryheid werklik elke uithoek van die gemeenskap bereik. Die regering het die 30-Jaar-Oorsigverslag gister in Pretoria bekend gestel. Dit weerspieël die taak wat Suid-Afrika gesamentlik aangepak het om ‘n demokratiese, welvarende en vrye land te bou. Ntshavheni sê 30 jaar van vryheid en demokrasie in Suid-Afrika is ‘n reis deur oorwinnings, uitdagings en voortdurende vooruitgang.
# Die voormalige ANC-voorsitter in Tshwane, Kgosi Maepa, sal vandag strafregtelike aanklagte aanhangig maak teen die DA by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria. Hy beskuldig die DA-leiers John Steenhuisen en Helen Zille van hoogverraad en crimen injuria, na die brand van die Suid-Afrikaanse vlag in ‘n verkiesingsadvertensie. Maepa sal ook ‘n saak aanhangig maak teen die burgemeester van Tshwane Cilliers Brink en die stadsbestuurder Johann Mettler vir beweerde omvattende Inkomstediens-BTW-bedrog en belastingontduiking van 4,7-miljard-rand.
# ActionSA se Gautengse premierskandidaat, Funzi Ngobeni sê hy is meer toegewyd tot die stryd teen misdaad nadat hy die slagoffer van ‘n kaping en ontvoering was. Hy en die party se jeugforumvoorsitter, Hluphi Gafane, is Dinsdagaand deur gewapende mans naby Olievenhoutbosch in Centurion gekaap. Hulle is ure later ongedeerd in Benoni gevind. Ngobeni sê hy is dankbaar hul lewens is gespaar:
# Die internasionale farmaseutiese maatskappy AstraZeneca het die wêreldwye onttrekking aangekondig van sy Covid-19-entstof weens ‘n afname in aanvraag. Die maatskappy skryf die afname toe aan ‘n oorvloed nuwe entstowwe wat vervaardig word. Die entstof, genaamd Vaxzevria, is saam met die Universiteit van Oxford ontwikkel en die eerste van meer as drie-miljard dosisse is in Januarie 2021 in Brittanje toegedien. Maar, die entstof het na wat berig word ook newe-effekte soos bloedklonte en lae bloedplaatjietellings veroorsaak. Die maatskappy sê hy het die afgelope jaar geen inkomste daaruit verdien nie.
# Rugby: Die Springbok-vroue is op pad om vir die 2025 Wêreldbeker in Engeland te kwalifiseer en hul Afrika-titel te verdedig. Dit volg ná ‘n bonuspunt-oorwinning van 63-5 teen Kenia in die Afrika Rugby Vrouebeker in Madagaskar. Die Bok-vroue is boaan die punteleer, maar Sondag se wedstryd teen Madagaskar sal hul plek in die Wêreldbeker-toernooi bevestig. Afrigter Louis Koen sê hy is tevrede met hoe hulle die wedstrydplan uitgevoer het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-461-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-309-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….