Nuus 18:00
BULLETIN 8 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cylril Ramaphosa sê die 30-jaar-oorsigverslag weerspieël Suid-Afrika se ekonomiese stryd en die pad na hervorming
# SA Steel Mills word verbied om op te tree teen stakende werkers
# En, SANEF betreur die dood van Citizen se nuusredakteur, Amanda Watson
# President Cyril Ramaphosa sê die 30-jaar-oorsigverslag dien as ‘n belangrike verwysingsdokument om die verlede te verstaan en die toekoms te vorm. Hy het tydens die bekendstelling van die verslag in Pretoria gesê die land het te doen met trae ekonomiese groei, hoë werkloosheid, armoede, ongelykheid en onder-ontwikkeling. Ramaphosa het benadruk dat pogings voortgaan om uitdagings aan te pak, wat die energiekrisis en strukturele hervormings vir ekonomiese groei insluit:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa verwelkom die uitspraak van die Arbeidshof wat SA Steel Mills verbied om werkers onregmatig te dissiplineer en af te dank. Die vakbond het opgetree nadat 162 werkers geskors is vir beweerde deelname aan ‘n onbeskermde staking. Hulle betoog die optrede was voortydig hangende ‘n finale hofbevel oor die wettigheid van die staking. Phakamile Hlubi-Majola van Numsa sê hulle sal hul lede aanhou steun en regverdige behandeling verseker tydens regsoptrede:
# ‘n Senior bestuurder van Atletiek Suid-Afrika, Terrence Magogodela, het byna 400-duisend-rand terugbetaal uit ‘n verdagte multimiljoen-rand Lotery-toekenning, maar hy kan steeds vervolg word. Magogodela word ondersoek vir ‘n beweerde korrupte Lotery-toelaag van 15-miljoen-rand aan ‘n organisasie sonder winsmotief, Inqaba Yokulinda. Dit was bedoel vir ‘n atletiekbaan in Kimberley. Magogodela het die geld terugbetaal aan die Spesiale Ondersoekeenheid, maar regsoptrede kan steeds volg.
# Sokker: Duitse klubs lyk op die oomblik sterk. Borussia Dortmund is deur na die Kampioeneliga-eindstryd nadat hy Paris Saint-Germain geklop het. Hul teenstanders sal vanaand in Spanje bepaal word in die wedstryd tussen Bayern München en Real Madrid, wie se eerste halfeind-kragmeting 2-elk geëindig het. Intussen het Bayer Leverkusen een voet in die Europaliga-eindstryd omdat hulle twee-nul voorloop teen Roma ná die eerste halfeind-kragmeting. Bayern München se bestuurder, Thomas Tuchel, sê dit is ‘n hupstoot vir Duitse klubs se selfvertroue:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-381-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-315-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-67-sent per vat.
# En, laastens: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum rou oor die dood van die nuusredakteur van The Citizen. Amanda Watson is gister na ‘n kort siekbed oorlede. Die 56-jarige Watson word beskryf as ‘n hardwerkende joernalis wat die koerant se akkuraatheid, regverdigheid en toewyding aan die nuus-agenda volgehou het. Sy het by verskeie publikasies gewerk, insluitend die Caxton-titels North Eastern Tribune en Randburg Sun, voor sy in 2013 by The Citizen aangesluit het. Watson het gevorder van senior verslaggewer tot adjunk-nuusredakteur en uiteindelik nuusredakteur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….