Nuus 16:00
BULLETIN 8 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vier die gesamentlike pogings met die bou van ‘n demokratiese Suid-Afrika
# Giwusa is bekommerd oor die kansellering van die halaal-sertifisering van Clover-produkte
# En, Afrikaans vier vandag 99 jaar as amptelike taal, te midde van planne vir ‘n eeufeesviering
# President Cyril Ramaphosa loof die gesamentlike pogings tot die bou van ‘n demokratiese, voorspoedige Suid-Afrika. Hy het met die bekendstelling van die 30-jaar Hersieningsverslag in Pretoria gesê dit weerspieël die vordering wat gemaak is sedert die aanvaarding van die Grondwet in 1996, met die visie van die Vryheidshandves. Ramaphosa beklemtoon die voortgesette reis na die verwesenliking van die strewes van vryheidsvegters en die verryking van demokrasie vir alle Suid-Afrikaners:
# Werkende Suid-Afrikaners word versoek om professionele aftreevoordeel-berading te kry voordat die tweepotstelsel in werking tree. Die stelsel, wat vanaf 1 September Suid-Afrika se private aftreebedryf van 3,27-duisend-miljard rand ingrypend gaan verander, veroorsaak kommer oor verbruikersbegrip. ‘n Raadgewer van die maatskappy NMG Benefits, Natasha Huggett-Henchie, sê professionele leiding is deurslaggewend aangesien die stelsel uiteindelik korttermynlenings kan voorkom en aftree-uitkomste verbeter. Die stelsel het ten doel om aftreefondse te beveilig terwyl dit gedeeltelike toegang gee terwyl begunstigdes nog werk, hangende regulatoriese gereedheid.
# Die algemene werkersvakbond Giwusa is bekommerd oor die kansellering van die halaal-sertifisering van Clover-produkte deur die Moslem-Geregsraadtrust. Giwusa verwerp wat hy die Sionistiese eienaarskap van Clover se moedermaatskappy, Milco SA, noem, wat glo verbind word met Israelse nedersettings in Palestina. Die woordvoerder Mametlwe Sebei vra Clover se nasionalisering onder demokratiese werker-beheer, om aan samewerkende beginsels te voldoen en uitbuiting teen te staan:
# Die voormalige Suid-Afrikaanse bokser en driemalige wêreldkampioen Dingaan Thobela se kinders het hulle daartoe verbind om sy nalatenskap voort te sit. Thobela is tydens ’n gedenkdiens by Hill on Empire in Parktown, as ’n sport-ikoon en simbool van eenheid vereer. Die “Roos van Soweto” is in Mayfair, Johannesburg, oorlede ná ‘n stryd met sy gesondheid. Sy begrafnis vind môre plaas. Thobela se seun, Elton, onthou sy pa met liefde as ‘n vegter en nederige persoon:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-386-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-7-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Dit is vandag 99 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika erken is, met planne vir volgende jaar se eeufeesviering. Afrikaans het Nederlands op 8 Mei 1925 vervang as die land se tweede amptelike taal naas Engels. ’n Komitee genaamd Afrikaans 100, bestaande uit organisasies, maatskappye en rolspelers uit die Afrikaanse gemeenskap, is verlede jaar in die lewe geroep om die eeufeesvierings te reël. Dit sal volgende jaar eindig met ‘n fees op 8 Mei by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….