Nuus 15:00
BULLETIN 8 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal ná die ineenstorting van ‘n gebou in George is onveranderd terwyl reddingspogings voortduur
# Die kinders van die ontslape Suid-Afrikaanse bokser en driemalige wêreldkampioen Dingaan Thobela wil sy nalatenskap voortsit
# En, ‘n meningspeiling onthul net 16-persent van Suid-Afrika se jeug is optimisties oor die land se toekoms
# Die George-munisipaliteit het bevestig getalle bly onveranderd na die ineenstorting van ‘n gebou in Victoriastraat. Reddingspogings duur voort met ‘n gespesialiseerde asbesverwyderingsmaatskappy wat nou die parkeerstruktuur langs die rampgebied afbreek. Munisipale owerhede het bevestig 36 werkers is tot nou toe uit die puin gehaal. Sewe van hulle is dood, 16 is in ‘n bedenklike toestand, ses het lewensbedreigende beserings en sewe het geringe beserings oopgedoen. Nege-en-dertig van die 75 werkers op die perseel word egter nog vermis.
Intussen sê die African Transformation Movement hulle is bekommerd oor die omstandighede rondom die ineenstorting van die gebou en die gebrek aan deursigtigheid oor die maatskappy verantwoordelik vir die bouprojek. Die party bevraagteken aanspreeklikheid en voldoening aan veiligheid-standaarde. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê dit is ontstellend dat maatskappye nie dopgehou word nie, veral dié in wit besit, wat dikwels aanspreeklikheid vryspring:
# Die DA vra dringende optrede by die Tembisa-hospitaal, oor die kritieke personeel- en toerustingstekorte wat pasiëntsorg ernstig raak. Die oproep volg nadat die LUR vir Gesondheid in Gauteng, Nomantu Nkomo-Ralehoko, onthul het daar is 104 vakante poste, insluitend verpleegkundiges en spesialiste. Jack Bloom van die DA sê toerustingbehoeftes, wat wissel van MRI-toerusting tot ventilators, het ook vertragings vererger en veroorsaak beperkte behandelings-moontlikhede. Hy vra die aanstelling van ‘n bevoegde uitvoerende hoof en voldoende hulpbronne:
# Boks: Die voormalige Suid-Afrikaanse bokser en driemalige wêreldkampioen, Dingaan Thobela, se kinders het hulle daartoe verbind om sy nalatenskap voort te sit. Thobela is tydens ’n gedenkdiens by Hill on Empire in Parktown as ’n sport-ikoon en simbool van eenheid vereer. Die “Roos van Soweto” is in Mayfair, Johannesburg, oorlede ná ‘n stryd met sy gesondheid. Sy begrafnis vind môre plaas. Thobela se seun, Elton, onthou sy pa met liefde as ‘n vegter en nederige persoon:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-239-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-40-sent per vat.
# En, laastens: ‘n Peiling deur die Ichikowitz-familiestigting het onthul net 16-persent van Suid-Afrikaanse jongmense tussen 18 en 24 is optimisties oor die land se toekoms, en is bekommerd oor regeringskorrupsie, werkloosheid en ongedokumenteerde migrante. Byna driekwart sê die land beweeg in die verkeerde rigting, vergeleke met 63-persent in 2022 and 50-persent in 2020. Die siening is in skerp teenstelling met dié van jongmense in ander Afrika-lande, met jong Rwandese en die jeug in die Ivoorkus wat die optimistiesste is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….