Nuus 12:00
BULLETIN 8 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK onthul dit sal 587-miljoen-rand kos om die verkiesing uit te stel
# COPE kritiseer die ondertekening van die Wysigingswetsontwerp oor Verkiesingsaangeleenthede
# En, Kaapstad word beskou as een van die wêreld se beste stede vir koffie
# Die Verkiesingskommissie sê dit sal sowat 587-miljoen-rand kos om die 29 Mei-verkiesing uit te stel. Die Konstitusionele Hof hoor vandag drie partye se aansoek aan wat die OVK beskuldig dat hulle onregverdig weerhou word om aan die verkiesing deel te neem. Ace Magashule se African Congress for Transformation, die mynvakbond Amcu se Arbeidersparty en die Afrikan Alliance of Social Democrats het nie hulle kandidatelyste teen die sperdatum ingehandig nie. Die partye wil hê die inhandigingstydperk moet heropen en die verkiesing uitgestel word. Die OVK voer aan dis die partye se eie skuld.
COPE sê intussen hy is teleurgesteld omdat president Cyril Ramaphosa die Verkiesingswysigingswetsontwerp bekragtig het. Die wetgewing wysig die Wet op Politieke Partybefondsing van 2018. Dit maak voorsiening vir die regulering van privaat- en openbare befondsing van onafhanklike kandidate en onafhanklike verteenwoordigers. COPE se waarnemende nasonale voorsitter, Paek Dikgetsi, sê hulle beskou die ondertekening van die wetgewing so na aan die algemene verkiesing as ‘n aanval op grondwetlike demokrasie:
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings vra Cape Nature om deursigtig te wees oor die welstand van ‘n olifant in die Fairy Glen-natuurreservaat naby Worcester, Letaba. Die raad beskuldig Cape Nature daarvan dat hy voldoenings-inligting weerhou. Woordvoerder, Jacques Peacock, sê Letaba het ‘n beperkte dieet, en eis dat Fairy Glen inligting oor nakoming en sy dieet-protokol bekend maak. Hy benadruk Letaba moet ‘n gebalanseerde dieet volg en kritiseer die reservaat se vertroue op skenkings deur die publiek om die olifant behoorlik te voer.
# Motorsport: Die voorsitter van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se geregtelike komitee, Jim Jordan, het ‘n ondersoek begin nadat Formule Een Andretti Cadillac se bod verwerp het om in 2025 of 2026 aan te sluit. Die bod onder leiding van die gewese McLaren-renjaer, Michael Andretti, is in Januarie van die hand gewys. F1, as houer van die sport se handelsregte, sê die teenwoordigheid van ʼn elfde span op die baan sal nie waarde toevoeg nie. Jordan vra antwoorde om seker te maak daar is geen onwettige, nie-mededingende gedrag ter sprake nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-168-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-305-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-8-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Kaapstad-Toerisme sê die stad se koffie-aanbod weerspieël die lewendige kultuur wat die Moederstad spesiaal maak. Die Amerikaanse kookkunstydskrif, Food and Wine, het Kaapstad op sy 2024 top tien-lys van stede vir koffie opgeneem. Die ranglys is bepaal deur meer as 180 koskenners. Die uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme, Enver Duminy, sê die erkenning bewys die stad se koffiegemeenskap se passie, kreatiwiteit en veerkragtigheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….