Nuus 11:00
BULLETIN 8 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê dit sal 587-miljoen-rand kos om die verkiesing uit te stel
# Die Wes-Kaapse premier loof die werk van die reddingspanne in George
# En die VSA het ‘n besending bomme na Israel teruggehou te midde van kommer oor ‘n inval in Rafah
# Die Verkiesingskommissie sê dit sal sowat 587-miljoen-rand kos om die verkiesing uit te stel. Die Konstitusionele Hof hoor vandag drie partye se aansoek aan wat die OVK beskuldig dat hulle onregverdig weerhou word om aan die verkiesing deel te neem. Ace Magashule se African Congress for Transformation, die mynvakbond Amcu se Arbeidersparty en die Afrikan Alliance of Social Democrats het nie hulle kandidatelyste teen die sperdatum ingehandig nie. Die partye wil hê die inhandigingstydperk moet heropen en die verkiesing uitgestel word. Die OVK voer aan dis die partye se eie skuld.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê redding- en noodspanne werk onverpoosd om die 39 werkers te red wat nog onder puin vasgekeer is nadat ‘n gebou in George in die Suid-Kaap ingetuimel het. Sewe werkers is dood en 36 gered. Winde sê ʼn spannende paar dae lê voor terwyl soek-en-reddingspogings voortgaan. Hy voeg by die meelewing wat vrywilligers en nie-regeringsorganisasies teenoor die families van die betrokke bouwerkers toon, is uitsonderlik.
# Die EFF het die verbeurdverklaringsbevel van 53-miljoen-rand verwelkom wat aan die Spesiale Ondersoekeenheid toegestaan is as deel van ‘n ondersoek na die bedrieglike oordrag van staatsgrond aan ‘n sindikaat. Die SOE sê die sindikaat het die bedrog gepleeg in die Gautengse Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se akteregisters in Vryburg, Pretoria en Johannesburg. Dumisani Baleni van die EFF sê strafregtelike stappe moet dadelik gedoen word om diegene wat hiervoor verantwoordelik is, aanspreeklik te hou:
# Amerika het verlede week ʼn besending van meer as drie-duisend bomme na Israel teruggehou te midde van kommer oor ʼn inval in Rafah in Gaza. Die Israelse Weermag het die hoof-grenspos tussen Gaza en Egipte in Rafah oorgeneem en ʼn belangrike roete vir humanitêre hulp afgesny. ʼn Amerikaanse amptenaar het aan die Washington Post gesê deur die besending se aflewering uit te stel, beklemtoon dié land sy kommer oor Israel se aanval op Rafah.
# Motorsport: Die voorsitter van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se geregtelike komitee, Jim Jordan, het ʼn ondersoek begin nadat Formule Een Andretti Cadillac se bod om verwerp het om in 2025 of 2026 aan te sluit. Die bod onder leiding van die gewese McLaren-renjaer, Michael Andretti, is in Januarie van die hand gewys. F1, as houer van die sport se handelsregte, sê die teenwoordigheid van ʼn elfde span op die baan sal nie waarde toevoeg nie. Jordan vra antwoorde om seker te maak daar is geen onwettige, nie-mededingende gedrag ter sprake nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-281-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-312-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….