Nuus 08:00
BULLETIN 8 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof hoor vandag die saak aan van ongeregistreerde partye wat die verkiesing wil uitstel
# Daar word nog 39 werkers vermis na die ineenstorting van die gebou in George
# En Stormy Daniels getuig oor haar beweerde seksuele voorval met Trump
# Die Konstitusionele Hof hoor vandag ‘n aansoek aan van drie ongeregistreerde politieke partye wat beweer die Verkiesingskommissie sluit hulle onregverdig uit van deelname aan die verkiesing op 29 Mei. Ace Magashule se African Congress for Transformation, die mynvakbond Amcu se Arbeidersparty en die Afrikan Alliance of Social Democrats eis veranderinge aan die OVK se verkiesingsrooster, onder andere dat die verkiesing uitgestel word. Die partye beweer tegniese foute in die OVK se aanlyn registrasiestelsel het gekeer dat hulle betyds registreer. Die OVK staan die aansoek teen.
# Die George-munisipaliteit het bevestig die aantal werkers wat uit die rommel van die ineengestorte gebou gered is, het tot 36 gestyg. Sewe mense is dood terwyl 39 werkers steeds vermis word. Altesaam 75 bouers was op die perseel tydens die ineenstorting Maandagmiddag. Die stadsraad sê ‘n multi-dissiplinêre span meer as 200 nooddienswerkers werk onverpoos om soveel mense as moontlik te red.
# ActionSA in Gauteng se voorsitter, Funzi Ngobeni, en die voorsitter van die party se Jeugforum, Hluphi Gafane, was gisteraand die slagoffers van ʼn kaping en ontvoering. Die twee het glo in ʼn Toyota Hilux gery toe hulle in Olievenhoutbosch, Centurion, aangeval is. ActionSA se voorsitter, Michael Beaumont, sê hulle is omstreeks 10:45 ná ʼn polisiesoektog in die Benoni-area gevind:
# Die gewese porno-ster, Stormy Daniels, het gister in New York in Donald Trump se swyggeld-saak getuig oor haar beweerde seksuele ontmoeting in 2006 met die Amerikaanse oudpresident. Daniels het aan jurielede vertel sy het na Trump se hotelkamer in Lake Tahoe gegaan en was onder die indruk hulle gaan uiteet nadat hulle daar ontmoet het. Sy beweer hulle het ʼn seksuele ontmoeting gehad waartoe albei ingestem het. Trump staar 34 aanklagte in die gesig dat hy sakerekords vervals het in ʼn beweerde poging om betaling vir Daniels se stilswye te verbloem.
# Sokker: Borussia Dortmund is deur na hulle eerste Kampioeneliga-eindstryd sedert 2013 nadat hulle in die tweede deel van hulle halfeindronde-kragmeting met Paris Saint-Germain afgereken het. Mats Hummels se kopskoot in die tweede helfte het aan Dortmund ʼn een-nul-sege besorg met ʼn totale oorwinning van twee-nul. Die Duitse klub sal die eerste van volgende maand in die eindstryd in Londen óf teen Real Madrid óf Bayern Munich te staan kom. Dortmund se bestuurder, Edin Terzic, beskryf sy span se prestasie as uitstaande:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-766-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….