Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf Amazon.co.za is amptelik in Suid-Afrika bekendgestel. Dit word as ‘n deurslaggewende oomblik vir die land se e-handelsektor bestempel en beteken die toetrede van dié handelsreus tot ‘n kleinhandelmark van 1,3-duisend-miljard-rand.
GAUTENG:
# Beeld:
Is die eerste van die drie susterskoerant van Media24 wat vandag hul voorblaaie afstaan aan die gebouramp in George. Die koerant berig breedvoerig oor die reddingspoging, die moontlike oorsake van die ramp en die ondersoek wat nou gaan volg. Daar is ook talle foto’s van die reddingspogings en familielede wat angstig wag.
Tweedens het die koerant ‘n brokkie oor FlySafair se 10-rand vlugkaartjie op sy tiende verjaarsdag.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oudpresident Jacob Zuma gaan aanbly as president van die MK-party.
En berig dis ‘n Afrika-wet dat kinders omsien na hulle ouers.
# Sowetan:
Berig die ma van een van die vier tieners van die Eqinisweni Secondary School in Ivory Park wat selfdood gepleeg het, Maria Lubisi sê sy vermoed haar dogter was swanger.
# En The Citizen:
Lei met: “WHY YOUTH ARE GATVOL”. Die koerant skryf die manier waarop die regering korrupsie en werkloosheid onder die jeug hanteer en swak dienslewering is volgens ‘n opname onder 18- tot 24-jariges tekens dat die land in die verkeerde rigting beweeg.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die ineenstorting van die gebou in George.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Staan ook sy hele voorblad af aan die gebou-ramp. Die koerant berig van die oorlewendes wat onder die puin vasgekeer is, het per selfoon nog kontak gehad met hul families.
# En Cape Times:
Skryf dis ‘n wedloop teen tyd om die vasgekeerde werkers in George te red.
En berig president Cyril Ramaphosa het ook die DA se vlagbrand-advertensie veroordeel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Lei met: “GEORGE’S DARKEST HOUR”. Die koerant praat met ooggetuies en skryf oor die uitwerking van die ramp op die hele gemeenskap.
En berig tweedens diegene wat die plakkate met die gesig van die burgemeester, Gary van Niekerk verwyder het, kan tot drie-duisend-rand beboet word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die koerant het gaan ondersoek instel na die woonomstandighede van die eThekwini-gemeenskap en berig duisende mense woon onder haglike omstandighede.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die karkas van ’n groot witrenosterbul is op ’n plaas in die Gobabis-distrik ontdek. Die plaas het voorheen ook witrenosters aan die hand van stropers verloor.
En tweedens skryf die koerant die ma van die 19-jarige Elias Namwandi wat aangekla word van die moord op Christof Fredericks, sê sy het hom self aan die polisie oorhandig.