Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa veroordeel ‘n DA-advertensie van die landsvlag wat brand
# Die Wes-Kaapse premier waarsku teen fopnuus oor die ineenstorting van ‘n gebou in George
# En, rugby: Antoine Dupont is gretig om die Kampioenebeker saam met Toulouse te wen
# President Cyril Ramaphosa veroordeel die DA se verkiesingsadvertensie wat uitbeeld hoe die nasionale vlag brand. Hy beskryf die uitbeelding as desperaat en opruiend, wat die demokrasie en eenheid ondermyn met die viering van 30 jaar van vryheid. Ramaphosa benadruk die belangrikheid van die vlag as ‘n simbool van identiteit, integriteit en eensgesindheid en moedig alle partye aan om nasionale simbole te respekteer en verkiesings met waardigheid en eenheid te voer. Hy vra alle politieke partye en Suid-Afrikaners om die waardigheid van nasionale simbole te beskerm.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die media en die publiek gewaarsku teen die verspreiding van fopnuus en teen politiekery rondom die ineenstorting van ‘n vyf-verdieping-gebou in George. Hy waarsku die fokus moet op die reddings-pogings wees, ter wille van die 47 werkers wat nog steeds onder die puin vasgekeer is, asook die ses slagoffers wat dood is. Winde het vals gerugte en bewerings oor onder meer die aantal ongevalle veroordeel:
# Die polisie- en gevangenis-vakbond Popcru waarsku oor ‘n potensiële nasionale veiligheidsbedreiging weens die toenemende verlies aan hoogs-geskoolde en -gespesialiseerde lede in sleuteleenhede van die Polisie. Die vakbond waarsku beamptes van eenhede soos die Spesiale Taakmag en Nasionale Ingrypings-eenheid verlaat die Suid-Afrikaanse Polisiediens vinnig, weens beter geleenthede en meer geld in die privaat sektor. Richard Mamabolo van Popcru vra onmiddellike regeringsoptrede om ervare lede te behou:
# Die Verenigde Nasies sê Israelse owerhede het die VN toegang tot die nou geslote Rafah-kruising geweier, wat die sleuteltoegangspunt is vir humanitêre hulp na die Gaza-strook. Die VN sê die onvermoë om brandstof deur die kruising te vervoer na die beleërde Palestynse gebied, plaas hulp-operasies in gevaar. Hy sê die Rafah-grensoorgang met Egipte is tans onder beheer van die Israelse Weermag wat gesê het daar sal vir eers geen toegang wees vir personeel of goedere in of uit die gebied nie.
# Rugby: Die twee suksesvolste spanne in Europese klubrugby meet op 25 Mei in Londen kragte in die eindstryd van die Kampioenebekerkompetisie. Die Ierse span, Leinster, is deur na hulle agste eindstryd en gaan probeer om die rekord te ewenaar deur hulle vyfde Europese trofee te wen. Die Franse reus, Toulouse, wil hulle rekord tot ses opstoot. Hulle sterspeler, die Franse kaptein Antoine Dupont, sê hulle is gretig om as die beste in Europa gekroon te word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-380-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……..