Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Vasgekeerde bouwerker beskryf die chaos te midde van die ineenstorting van ‘n gebou in George
# Saftu versoek regeringsbelegging in die Poskantoor om afleggings te voorkom
# En, rugby: Die Junior Bokke verloor teen Australië na ‘n rooikaart
# Een van die werkers wat in ‘n ineengestorte gebou in George vasgekeer is, Delvin Safers, het die geweldige chaos en beproewing as angswekkend beskryf. Die 29-jarige werker van Mosselbaai het as elektrisiën op die bouterrein in Victoriastraat gewerk toe dit gister ingetuimel en die lewens van minstens ses van sy kollegas geëis het. Safers het aan News24 gesê te midde van die duisternis en stof waarin hy vasgekeer is, bly hy hoopvol om gered te word. Intussen sê die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum verskeie spanne met snuffelhonde gaan onverpoosd voor met die reddingsoperasie. Agt-en-veertig mense word nog vermis.
# Die vakbondfederasie Saftu vra die regering om in die Suid-Afrikaanse Poskantoor te belê om dreigende afleggings te voorkom. Die organisasie en sy filiaal, die Demokratiese Pos- en Kommunikasiewerkersvakbond, is teleurgesteld oor die mislukking van die aansoek om hulp van die Tydelike Indiensneming-verligtingskema, wat veronderstel was om afleggings te vertraag terwyl daar na langtermyn oplossings gesoek word. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, eis minstens 30-persent van die posdienste-begroting moet vir ondersteuning van die Poskantoor aangewend word:
# Die parlement in Zimbabwe het met landwye raadpleging begin oor die afskaffing van die doodstraf, in ooreenstemming met wêreldwye norme. Die raadplegings sal toon dat veroordeeldes met verswarende omstandighede steeds die doodstraf opgelê word. Daar is tans 63 gevangenes in die dodesel. Zimbabwe se laaste teregstelling was in 2005. Sedert onafhanklikheid in 1980 is 79 mense tereggestel. Menseregtegroepe verwelkom die stap en glo dit weerspieël ontwikkelende internasionale standaarde.
# Rugby: Die Junior Springbokke het met 24-19 teen die gashere, Australië, verloor in hulle wedstryd in die Onder-20 Rugbykampioenskap aan die Sonskynkus. Die Baba Bokke moes vir 20 minute met net 14 spelers klaarkom nadat die loskopstut, Mbasa Maqubela, halfpad deur die eerste helfte ‘n rooikaart gekry het. Die nat toestande het ook hantering bemoeilik. Die Baba Wallabies het twee drieë en ‘n strafdrie behaal. Litelihle Bester het twee keer vir die Junior Bokke gaan druk en JF van Heerden een keer. Vroeër het die jong All Blacks Argentinië 43-20 verslaan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-705-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-322-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Die prys van voedsel raak oënskynlik bestendiger, maar kommer bestaan steeds oor die uitwerking daarvan op voedselsekerheid. Die jongste verslag van die Mededingingskommissie toon hoewel voedselinflasie op sy laagste vlak sedert September 2020 is, het voortgesette uitdagings soos beurtkrag, vervoerkwessies en droogtes steeds ‘n uitwerking op pryse. Ten spyte van ontwrigtings soos die uitbreking van voëlgriep, is ‘n mate van verligting te bespeur, veral met die bestendiger prys van sonneblomolie en bruinbrood. Ingemaakte sardyne word gewilder as ‘n bron van proteïene te midde van stygende pryse, wat bekostigbaarheid en gerief aan verbruikers verskaf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….