Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Loskopdam-natuurreservaat in Mpumalanga het met ‘n baanbrekerprojek begin om wild te hervestig. Die doel is om verlore spesies terug te bring en ʼn ekotoerisme-toevlugsoord te skep. Die projek word gelei deur die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap en die Aspinall-stigting. Die projek sal minstens 120-miljoen-rand vir die reservaat en omliggende gebiede beskikbaar stel. ʼn Woordvoerder van die stigting, Dereck Milburn, sê hulle het besluit om die streek se bewarings- en ekonomiese potensiaal te ontsluit.
# Die Presidensiële Klimaatskommissie se aanvanklike regstreekse koste om Suid-Afrika oor die volgende vyf jaar op ʼn energie-oordragpad te plaas, beloop 1,5-duisend-miljard-rand. Dit is deel van die Billike Energie-oordragbeleggingsplan. Die kommissie het ʼn makro-ekonomiese nabootsingsmodel gebruik om die maatskaplik-ekonomiese en energie-gevolge vir Suid-Afrika te bepaal. Steve Nicholls van die kommissie sê die model toon die land vaar die beste vanuit ʼn groei- en indiensnemingsperspektief onder ʼn scenario waar dit netto-nul-beleide instel.
# En ten slotte: Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, sê hy is optimisties oor die werk wat in KwaXimba in die eThekwini-metro in KwaZulu-Natal gedoen is om die uitdagings met watertoevoer aan te pak. Dit volg op die minister se belofte in Februarie om die inwerkingstelling van uMngeni-uThukela Water se grootmaatwaterprojekte te versnel. Mchunu sê sy departement sal sonder huiwering streng optree teen die opsetlike beskadiging van infrastruktuur, wat ‘n misdaad teen watersekerheid is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….