Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die reddingoperasie by die ingetuimelde gebou in George gaan langer neem as verwag
# Die MK-party se stigter vra die OVK om Zuma van sy partyverteenwoordiging te verwyder
# En, tennis: Die tienmalige kampioen, Rafael Nadal, begin sy Italiaanse Ope-veldtog teen ‘n kwalifiseerder
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die operasie om 49 werkers te red wat vasgekeer is in ‘n ingetuimelde gebou in George gaan waarskynlik langer neem as wat verwag is, omdat die situasie so ingewikkeld is. Die amptelike dodetal in die ramp het tot ses gestyg. Winde sê dit is lewensbelangrik om uiters noukeurig en deeglik te werk om die veiligheid van die vasgekeerdes sowel as die welstand van die reddingswerkers te verseker:
# Die stigter van die uMkhonto we Sizwe-party, Jabulani Khumalo, het die Verkiesingskommissie formeel gevra om spoedig Jacob Zuma te verwyder as die party se verteenwoordiger en van sy parlementêre kandidatelys. Khumalo het die oud-president in ‘n brief voorlopig geskors en beweer sy optrede skaad die party se beeld. Khumalo verduidelik Zuma se betrokkenheid was bloot raadgewend en vir fondsinsameling, en nie as ‘n formele lid nie. Hy sê die voortgesette verbintenis met Zuma veroorsaak verwarring by die publiek en lede van die party.
President Cyril Ramaphosa het intussen twee wetsontwerpe onderteken gemik op die versterking van die finansiële bronne van Suid-Afrika se veelparty demokrasie. Die Tweede Aanpassing van die Toewysings-wetsontwerp, met ‘n netto verskuiwing van 290-milljoen-rand, ken bykomende fondse toe aan verskeie departemente, wat 200-miljoen-rand insluit vir die Departement van Binnelandse Sake vir die Verteenwoordigde Politieke Partyefonds. Die Wetsontwerp op Verkiesingsake reguleer privaat en staatsbefondsing vir onafhanklike kandidate en verteenwoordigers, wat billike steun verseker vir alle deelnemers aan die verkiesing.
# Statistiek Suid-Afrika se jongste verslag toon ‘n toerismesektor wat sterk groei, met internasionale aankomste van Januarie tot Maart wat op 2,4-miljoen staan. Dit is ‘n toename van 15,4-persent vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Afrika lei die toestroming, met 1,8-miljoen toeriste uit Zimbabwe en Ghana. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, skryf die groei uit Ghana toe aan ‘n visum-kwytskeldingskema en geteikende bemarkings-veldtogte. Sy sê ander streke, wat insluit die Amerikas, Europa, Asië en die Midde-Ooste, dra ook by tot die uitbreiding van die sektor. Dit bewys Suid-Afrika se blywende aantrekkingskrag vir globale reisigers.
# Tennis: Die tienmalige kampioen, Rafael Nadal, sal hierdie week sy Italiaanse Ope-veldtog teen ‘n kwalifiseerder begin. Die Spanjaard het in 2021 sy tiende titel in Rome ingepalm en is in ’22 in die ronde van 16 uitgeskakel, terwyl hy verlede jaar nie kon speel nie weens beserings. Hy gebruik tradisioneel die toernooi as die finale voorbereiding vir die Franse Ope, wat hy ‘n rekord 14 keer gewen het. Die wêreld se nommer een, Novak Djokovic van Serwië, het ‘n loslootjie in die eerste ronde en kom in die tweede ronde teen die Rus Roman Safiullin of ‘n kwalifiseerder te staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-292-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het sy nuwe waarnemingstegnologie bekendgestel om misdaad te bekamp. Die stad se inligtings-, waarnemings- en verkennings-tegnologie, ook bekend as die Oog in die Lug, is ‘n tweesitplek-vliegtuig toegerus met hipermoderne kameras. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die tegnologie sal bydra om inligting in te samel in die stryd teen bendevoorvalle, stropery, voertuig-diefstal, ander misdaad en veldbrande:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….