Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Mei 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met rugby: Die Bulle het die voorspeler Johan Grobbelaar se kontrak vir nog drie jaar verleng tot Junie 2027. Die gewese junior Springbok het reeds 123 keer vir die Bulle uitgedraf sedert hy in 2016 sy debuut vir die onder-19’s gemaak het. Hy het ‘n deurslaggewende rol in die Bulle se sukses gespeel, insluitend hul verowering van die Curriebeker in 2020 en ’21. Grobbelaar sê hy is gelukkig om by die unie te bly:
# Vervolgens, krieket: Suryakumar Yadav se onoorwonne honderdtal in die Indiese Premierliga het Mumbai Indians tot ‘n oorwinning met sewe paaltjies oor Sunrisers Hyderabad gelei. Hardik Pandya en Piyush Chawla het elkeen drie paaltjies platgetrek en die Sunrisers in hulle 20 boulbeurte tot 173 vir agt beperk. Yadav het daarna sy eerste IPL-honderdtal aangeteken met ʼn onoorwonne 102 van 51 balle. Mumbai het die teiken gehaal met 16 balle oor. Die oorwinning hou Mumbai in die wedloop om die uitspeelwedstryde te haal.
# Nou sokker: Manchester United se bestuurder, Erik ten Hag, glo steeds hy is die regte persoon om die klub reg te ruk. Die Reds het gisteraand op Selhurstpark vier-nul teen Crystal Palace verloor. United is na die nederlaag agste in die Premierliga en is uit wat Europese plekke betref. Ten Hag sê ondanks tien eerstespanspelers wat weens beserings buite aksie is, is dit duidelik dat die span onderpresteer:
# Tennis: Die tienmalige kampioen, Rafael Nadal, sal hierdie week sy Italiaanse Ope-veldtog teen ‘n kwalifiseerder begin. Die Spanjaard het in 2021 sy tiende titel in Rome ingepalm en is in ’22 in die ronde van 16 uitgeskakel, terwyl hy verlede jaar nie kon speel nie weens beserings. Hy gebruik tradisioneel die toernooi as die finale voorbereiding vir die Franse Ope, wat hy ‘n rekord 14 keer gewen het. Die wêreld se nommer een, Novak Djokovic van Serwië, het ‘n loslootjie in die eerste ronde en kom in die tweede ronde teen Roman Safiullin of ‘n kwalifiseerder te staan.
# En, ons sluit af met nuus oor die Olimpiese Spele: Die organiseerders van vanjaar se Spele in Parys verwag ‘n ongekende kubersekerheids-uitdaging. Hulle werk nou saam met die land se inligtingsekerheids-agentskap en kubersekerheidsmaatskappye om die uitwerking te beperk. Die direkteur-generaal van die agentskap, Vincent Strubel, sê hulle besef hulle kan nie al die aanvalle keer nie, maar vertrou hulle is gereed vir die aanslag. Sogenaamde etiese kuberkrakers is volgens berigte in diens geneem om hulle stelsels te toets om seker te maak dit is veilig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….