Nuus 11:00
BULLETIN 7 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in George styg tot vyf terwyl 49 werkers steeds vermis word
# Minister Zizi Kodwa sê die DA se vlagbrand-advertensie beledig die land se simbool van eenheid
# En ‘n Israelse afvaardiging gaan met onderhandelaars vergader met die oog op ‘n skietstilstand
# Die dodetal ná die ineenstorting van ‘n gebou in George het tot vyf gestyg, terwyl reddingsoperasies voortgaan. Nooddienste het 26 mense onder die puin verwyder, waarvan vyf dood is. Altesaam 49 word nog gesoek. ‘n Bouspan van 75 mense was op die perseel toe die gebou van verskeie verdiepings in Victoriastraat gistermiddag ingetuimel het. Die munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê die reddingspoging fokus op drie gebiede waar die gebou meegegee het:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, is geskok oor die DA se politieke advertensie waarin Suid-Afrika se vlag brand. Hy veroordeel dit as aanstoorlik en beledigend, en sê die vlag verteenwoordig die land se eenheid, vooruitstrewendheid en demokrasie. Hy kritiseer die DA-leiers vir hulle desperaatheid en roekeloosheid, en sê pogings om Suid-Afrikaners met die vlag te verdeel sal nie slaag nie. Die ministerie se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê die vlag behoort nie gebruik te word om verdeeldheid te saai nie:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy gaan ‘n afvaardiging bemiddelaars na Kaïro, Egipte, stuur om alles moontlik te probeer om ‘n ooreenkoms met Hamas te bereik. Die militante groep het die nuwe voorstel van die bemiddelaars van Katar en Egipte aanvaar, maar Netanyahu sê dit is ver verwyder van Israel se basiese vereistes. Hy sê hulle moet verseker dat alle gyselaars vrygelaat word, dat Hamas se militêre en organiseringsvermoë vernietig word en dat Gaza in die toekoms geen bedreiging vir Israel sal inhou nie.
# Sokker: Manchester United se bestuurder, Erik ten Hag, glo steeds hy is die regte persoon om die klub reg te ruk. Die Reds het gisteraand op Selhurstpark vier-nul teen Crystal Palace verloor. United is na die nederlaag agste in die Premierliga en is uit wat Europese plekke betref. Ten Hag sê ondanks tien eerstespanspelers wat weens beserings buite aksie is, is dit duidelik dat die span onderpresteer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-629-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….