Nuus 12:00
BULLETIN 6 mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# David Mabuza sê die tugproses teen Zuma is ‘n hartseer hoofstuk in die ANC se geskiedenis
# Die Israelse weermag waarsku mense om die oostelike dele van Rafah te ontruim
# En, krieket: Sri Lanka en Skotland kwalifiseer vir die Vroue T20 Wêreldbekertoernooi
# Die voormalige adjunkpresident, David Mabuza, sê die tugproses teen die voormalige ANC-president, Jacob Zuma, is ‘n betreurenswaardige tydperk in die ANC se geskiedenis. Hy het op ‘n veldtog in Tshwane die ANC se verbintenis tot sy grondwet beklemtoon in die hantering van die saak. Hy sê Zuma se optrede was sy keuse en moet nie veroordeel word nie. Hy het ook die spanning tussen Zuma en die party afgemaak en sy vertroue bevestig in die ANC se verkiesingsvooruitsigte en sukses teenoor dié van die MK Party:
# Die Wes-Kaapse advertensie-agentskap vir toerisme, handel en beleggings, Wesgro, se konvensieburo het die afgelope boekjaar 30 nuwe aanbiedinge vir die provinsie verseker. Dis die eerste keer in die buro se geskiedenis dat die ekonomiese uitwerking van sakegeleenthede wat hy verseker het, die kerf van ‘n miljard-rand verbysteek. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Aangeleenthede, Mireille Wenger, sê die aanbiedinge verseker geleenthede tot in 2029:
# Die Israelse Weermag het Palestyne in die oostelike dele van Rafah gewaarsku om na nabygeleë humanitêre gebiede te verskuif, wat moontlik dui op voorbereidings vir ‘n grondaanval. Sowat 100-duisend mense word geraak. Volgens berigte is minstens 29 mense gisteraand in Israelse aanvalle in Gaza dood. Israel se minister van Verdediging, Yoav Gallant, sê Hamas se weiering om in te stem tot onderhandelings oor gyselaars se vrylating, het tot militêre optrede in Rafah gelei. Die Verenigde Nasies waarsku ʼn grondaanval sal nog lyding en sterftes onder ontwortelde Palestyne veroorsaak.
# Krieket: Sri Lanka en Skotland is die laaste twee spanne om te kwalifiseer vir die T20 Wêreldbekertoernooi vir vroue nadat hulle deurgedring het na die eindronde van die kwalifiseringstoernooi in Abu Dhabi. Sri Lanka het in die halfeindstryd ‘n oorwinning van 15-lopies behaal oor die Verenigde Arabiese Emirate. Skotland het Ierland met agt paaltjies geklop om vir hul eerste T20-Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer. Die toernooi word in Oktober in Bangladesj gehou, waar Australië na ‘n rekord sewende titel sal mik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-538-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-319-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-59-sent per vat.
# En, sowat 1,6-miljoen aanhangers het ‘n gratis konsert van Madonna bygewoon op Brasilië se beroemde Copacabana-strand. Die vertoning was die laaste konsert op die 65-jarige se Celebration-toer van 80 vertonings regdeur Europa en Noord-Amerika. Madonna het langer as twee uur liedjies soos Like a Prayer, Vogue en Express Yourself gesing. Die Brasiliaanse popkunstenaars Anitta en Pabllo Vittar, asook jonger musikante van samba-skole in Rio de Janeiro, het ook opgetree.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….